Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks en Centurion steeds onoorwonne in Volcano

UP-Tuks en Centurion is ná die naweek se wedstryde in die Volcano-Superliga die enigste van die agt deelnemende eerste spanne wat nog met ’n ongeskonde vertoningslys kan spog.

Dié twee pasaangeërs het op hul tuisvelde met onderskeidelik Quins-Bobbies (50-26) en Springs (24-20) afgereken.

In die twee ander wedstryde het Naka Bulle amok gemaak teen die beleërde Impala (83-17), terwyl Northam sy eerste sege van die seisoen, teen East Rand United, behaal het (29-20).

Waar die tuisspanne op 4 Mei almal aan die verloorkant was, was dit die naweek die besoekers wat druipstert terug is huis toe.

Vir UP-Tuks was die sege oor QBR sy derde in die Volcano-beker-reeks en sy eerste in die Carltonliga. Soos in die wedstryde teen Impala en Northam was dié dubbele verdedigende kampioen weer traag uit die blokke en loop hy nou die gevaar om as die span van uiterste helftes gedoop te word.

UP-Tuks het in die eerste helfte glad nie skerp gelyk nie en kwesbaar voorgekom in die verdediging. QBR het UP-Tuks se halfhartigheid goed uitgebuit en kan vir seker ontevrede wees dat die skeidsregter die eerste helfte ná net 32 minute beëindig het.

In die laaste 40 minute was UP-Tuks meer klinies, gefokus en afgerond, maar die gevoel in die kamp was eenparig dat ’n beduidend beter poging nodig gaan wees in die wegwedstryd Saterdag teen Springs. Die Oos-Randers het ’n gedugte span wat juis op die oorlogspad sal wees ná sy eerste nederlaag in die 2019-reeks.

Centurion sal op sy tuisveld met vertroue uitsien na die wedstryd teen Naka, wat ook ’n Carltonbeker-bepaling is. Centurion het baie momentum met sy drie agtereenvolgende oorwinnings opgebou, maar kom te staan teen die besoekers uit die Moot voor sy grootste uitdaging tot nou toe.

Naka het nog nie weer teruggekyk ná die nederlaag teen Springs nie en met die kragvertonings teen eers East Rand United en toe Impala baie gesag ingeboesem. Die kragmeting teen Centurion sal vir seker die hoofdis op die naweek se klubrugby-spyskaart wees.

In Groenkloof sal die uitslag van die opwarmwedstryd tussen QBR en Northam geen rol in die “herontmoeting” tussen dié twee klubs speel nie. Baie het gebeur sedert die Rhinos vroeër dié seisoen op Loftus Versfeld met QBR klaargespeel het. Die besoekers sal wel op die kruin van die golf wees ná die oorwinning teen East Rand United, maar na ’n hoër versnelling moet oorskakel om ook teen QBR te wen. Die tuisspan is ’n harder neut om te kraak en sal juis daarop uit wees om te vergoed vir die nederlae teen Centurion en UP-Tuks.

Impala sal onder geweldige druk wees in sy tuiswedstryd teen East Rand United, wat soos die Rustenburgers na sy eerste sege van die seisoen soek. Impala is trouens met die rug teen muur nadat hy in die wedstryde teen UP-Tuks 177 punte afgestaan het. Impala skuld sy ondersteuners ’n begeesterde vertoning.

Die uitslae van die wedstryde in die trofee-afdeling is:

Vereeniging 47, Grizzlies 24; NWU-Vaal 25, Boksburg 22; Pretoria 40, Brakpan 33; TUT 19, Dragons 19.

Meer oor:  Up-Tuks  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.