Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks-strekpunte te veel vir NWU

Tuks het hul onoorwonne rekord in vanjaar se Varsitybeker-reeks behou deur die NWU-Arende in hul derde rugbywedstryd met 33-15 te klop.

Die Tuks-heelagter, Zander du Plessis, was Sondag ’n doring in die NWU-Arende se vlees met sy akkurate skopskoen. Foto: Varsity Cup

Tuks het Sondag in Pretoria met groot geduld en rotsvaste verdediging vorendag gekom, terwyl die skopskoen van hul heelagter, Zander du Plessis, ’n groot wapen was.

Die Arende was vroeg met 7-0 en later met 10-6 voor, maar strafdoele deur Du Plessis – waarvan minstens een verder as 50 meter was – het die tuisspan in die wedloop gehou.

Ná ’n goeie helfte het die Potchefstromers steeds voor gaan rus, met die telling op 10-9, maar daaroor sal Tuks dalk ook iets te sê hê. Die Tuks-flank Eduan Lubbe is in die 30ste minuut oor die doellyn vir wat amper soos ’n drie gelyk het, maar die TV-skeidsregter het beslis hy het die bal kort gedruk voordat hy die bal verloor het. Tuks sou kon aanvoer dat die bal tóg op die lyn gedruk was en dus ’n drie moes wees.

Shane van Rooyen, die NWU-Arende se woelige heelagter, word deur twee Tuks-verdedigers vasgevat. Foto: Varsity Cup

Die beamptes het egter anders gevoel en dit het Tuks ook nie juis duur te staan gekom nie. Ná die rustyd het Du Plessis hulle met ’n strafdoel laat voorloop, voor drieë deur die agtsteman, Jaco Bezuidenhout, en Lubbe (dié keer ’n wettige drie, al is dit weer na die TV-skeidsregter verwys) die Arende se lot verseël het. ’n Laat spogdrie deur die skrumskakel, Clyde Lewis, was die kersie op Tuks se koek. Lewis het teen daardie tyd vleuel gespeel.

Die NWU het talle kanse gehad en was verskeie kere op die aanval in die Tuks se gebied, maar kon net nie afrond nie. Telkemale het hantering hulle gefnuik, en ander kere het Tuks die bal op die grond gesteel.

Die Arende kon eers in beseringstyd weer druk, toe die plaasvervanger Jandré de Beer oor is.

Die Pretorianers se lostrio van Bezuidenhout, Lubbe en Orateng Koikanyang is ’n gevaarlike een. Bezuidenhout is ’n verwoestende baldraer, terwyl die ander twee ook tipiese moderne losvoorspelers is – sterk én beweeglik.

Die Arende se heelagter, Shane van Rooyen, is ’n regte woelwater. Hy is bang vir niks nie en het sy kop ’n paar keer in losgemale ingesteek om omkeerbesit te wen.

Puntemakers: Tuks 33 (9): Drieë: Jaco Bezuidenhout, Eduan Lubbe, Clyde Lewis. Doelskoppe: Zander du Plessis (3). Strafdoele: Du Plessis (4). NWU-Arende 15 (10): Drieë: Gustav du Rand, Jandré de Beer. Doelskop: Keagan Fortune. Strafdoel: Fortune.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Varsitybeker-Reeks  |  Nwu-Arende  |  Tuks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.