Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks op hete kole oor kaptein vir eindstryd

Tuks se afrigter, Nico Luus, hou duim vas dat die Pretorianers se senter en kaptein, Sango Xamlashe, in die eindstryd van die Varsitybeker-rugbyreeks in aksie sal kan wees.

Die Pretorianers en Ikeys pak mekaar Maandag in die eindstryd in die Jakarandastad.

Louritz van der Schyff, senter van Tuks, probeer verby die Stellenbossers se Taigh Schoor kom. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotzé

Xamlashe is een van Tuks se spelers wat Vrydag in die span se oorwinning in die halfeindstryd teen die Maties ’n stamp of twee opgedoen het.

Sango Xamlashe, kaptein en senter van Tuks. Foto: Gallo Images

Die Pretorianers het vyf drieë gedruk om die verdedigende kampioen met 44-35 kous-oor-die-kop huis toe te stuur. In die ander halfeind het die Ikeys die Noordwes-Universiteit (NWU) se sterte met 54-36 geknoop.

“Dit is ’n baie lekker gevoel dat ons die Maties kon klop,” sê Luus.

“Ek dink almal sien verskriklik uit na die eindstryd. Om in die eindstryd te wees, voel soos ’n beloning, veral vir al die harde werk wat die spelers ingesit het.

“Gisteraand was almal in die kleedkamer baie opgewonde ná ons oorwinning, maar die ouens het reeds hul fokus na die eindstryd geskuif. Wanneer ons Maandag op die veld draf is die telling 0-elk en beteken alles wat vooraf gebeur het niks nie.”

Luus sê die spelers het hierdie naweek ’n paar swemsessies om hulle te help herstel met die oog op die eindstryd.

In die ander hoek van die kryt is die Ikeys, wat die eerste keer sedert 2014 weer in die eindstryd in aksie sal wees. Die manier waarop die Kapenaars die Potchefstromers verwoes het in hul sege van 54-36, sal Luus-hulle stof tot nadenke gee. Wat uitgestaan het van die sege is dat wanneer die Ikeys balbesit gekry het, daar min keer aan hulle was.

Die Ikeys se Kyle Bowman duik oor vir sy drie. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotzé

Ná 15 minute was die NWU met 15-0 voor, maar Tom Dawson-Squibb, afrigter van die Ikeys, sê daar was nie sprake van paniekerig raak nie.

“Ons het vooraf ’n goeie idee gehad van hoe ons wou speel en dit was vir ons belangrik om by daardie plan te hou.”

In die afwesigheid van James Tedder, die Kapenaars se uitblinker-losskakel, wat die wedstryd weens ’n besering misgeloop het, het David Hayes ’n goeie vertoning in die nr. 10-trui gelewer.

Dawson-Squibb sê daar is ’n kans dat Tedder gereed kan wees om in die eindstryd te speel.

Meer oor:  Pretoria  |  Rugby  |  Sango Xamlashe  |  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.