Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks se jong Turk bewonder ‘Lem’

Vir Tuks se Marco Labuschagne is die geleentheid om Varsitybeker-rugby te speel iets wat hy met albei hande aangryp – hy het immers op ’n jong ouderdom reeds ’n paar afdraaie in sy loopbaan gehad.

Marco Labuschagne in aksie vir die nasionale Sewesakademie op die Oktoberfest-toernooi in 2017 in Duitsland. Foto: Getty Images

Die 22-jarige Labuschagne, ’n vleuel en oudleerling van Bethlehem-Voortrekker, was in 2017 skaars uit die skool, toe maak hy sy debuut vir die Blitsbokke op die Londen-toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks.

In 2018 het hy in nog twee sewestoernooie in dié reeks gespeel, voordat hy in 2019 onderwys by Tukkies gaan studeer het.

“My kontrak het destyds by die sewes verstryk en ek het die geleentheid gehad om in Pretoria te gaan studeer. Dit is iets wat baie belangrik vir my is, en ek is nou op ’n plek waar ek baie gelukkig is,” sê Labuschagne.

Hy het verlede week teen die Pukke in Pretoria sy eerste wedstryd in die studentereeks gespeel.

“My eerste wedstryd was regtig spesiaal – met die groot skare en die musiek. Dit is ’n heeltemal ander gees. Mense vra of die geraas nie jou aandag aftrek nie, maar al my aandag was net by die rugby,” sê hy.

Labuschagne moes ook teen die Potchefstromers in ’n stadium op skrumskakel gaan uithelp, toe Tuks met 14 spelers oor die weg moes kom.

“Ons nr. 9 het ’n geelkaart gekry en ons het ’n skrumskakel nodig gehad vir ’n spesifieke beweging wat ons wou doen.

“Ek het dit eintlik geniet om ’n bietjie my hande op die bal te kry – op vleuel sien ’n mens mos nie so baie daarvan nie.”

Henry Honiball in 1997 teen Engeland in aksie. Foto: Getty Images

Die Pretorianers, 2019 se finaliste, kom Maandag teen die Ixias in Bloemfontein te staan. Labuschagne dink nie twee keer op die vraag of Maties, die afgelope twee jaar die kampioen, vanjaar geklop kan word nie.

“Ons vat dit wedstryd vir wedstryd. Maties het baie aandag getrek met die manier waarop hulle in hul eerste wedstryd (verlede week teen die Shimlas) gespeel het.

“Maar ons fokus nog nie op hulle nie. Ons volgende wedstryd is teen die SUT (Sentrale Universiteit vir Tegnologie se Ixias), wat self ’n goeie span is.

“Ek is seker deur dinge nie vooruit te loop nie, sal sukses vir ons op lang termyn beteken,” sê Labuschagne.

Gevra wie sy helde is, vertel hy dat sy pa, Natie, en die voormalige Springbok-losskakel Henry Honiball ’n groot invloed op hom het.

Honiball, of Lem soos hy alom bekend gestaan het tydens sy speeldae, het die Bokke in 35 toetse verteenwoordig.

“Ek kom eintlik oorspronklik van Winterton (in KwaZulu-Natal), waar oom Henry ook vandaan kom. Ek het daar gesien hoe nederig hy is, en nooit toegelaat het dat die roem na sy kop toe gaan nie,” sê Labuschagne.

* Maandag se bepalings (tuisspanne eerste): 18:45: Wits t. Universiteit van Johannesburg (regstreeks op SS 1 en SS 8); 19:00: Ixias t. Tuks; Ikeys t. Pukke; Shimlas t. Universiteit van Wes-Kaapland.

Meer oor:  Shimlas  |  Uj  |  Varsitybeker-Reeks  |  Pukke  |  Wits  |  Maties  |  Tuks  |  Ikeys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.