Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks se Luus sprakeloos ná Varsity-glorie

’n Deel van Tuks se strategie wat gesorg het dat die Pretorianers vanjaar koning gekraai het in die Varsitybeker-rugbyreeks, het behels om die Ikeys na ’n “donker plek” te neem.

So sê Nico Luus, afrigter van Tuks, nadat sy span die Kapenaars Maandagaand met 34-27 in die eindstryd in die Jakarandastad geklop het.

Louritz van der Schyff (links), senter van Tuks, en Thomas Meyer (slot) met die Varsitybeker. Foto: Varsity Cup | Catherine Kotze

Die Ikeys is vooraf as die gunsteling beskou om die titel te verower, veral omdat hulle onoorwonne was. Tuks daarenteen het vroeër teen die Maties en Ixias vasgeval.

“Ons het dit nooit maklik in die toernooi gehad nie. Hulle (die Ikeys) aan die ander kant het onoorwonne deur die toernooi gegaan,” sê Luus.

“Ons het vir onsself gesê dat ons hulle na ’n donker plek moet neem, ’n plek waar ons reeds was. Toe ons dus teen die einde moet verdedig of ons lewens daarvan afhang, was dit nie iets nuut nie, want ons het dit al gedoen.”

Ek weet nie hoe om my gevoel in woorde om te sit nie, juis omdat ek weet watter moeite elke ou ingesit het.

Teen rustyd was Tuks danksy vier drieë gerieflik met 31-10 voor. In die tweede helfte het die Kapenaars teruggeveg en dit het selfs op ’n stadium gelyk of hulle ’n oorwinning uit die kake van ’n nederlaag kan wegraap.

Maar Tuks het sterk gestaan en verseker dat die Varsitybeker ’n vierde keer staanplek in Pretoria kry.

Tuks hou kajuitraad tydens die eindstryd Maandag in Pretoria. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotzé

Luus (44), wat laat in 2019 die leisels as afrigter van Tuks se Varsitybeker-span oorgeneem het, het Dinsdag omtrent nie woorde gehad om die grootsheid van sy span se sege te beskryf nie.

“Ek weet nie hoe om my gevoel in woorde om te sit nie, juis omdat ek weet watter moeite elke ou ingesit het. Op hierdie stadium is dit meer ’n geval van verligting; ek moet die gevoel nog ’n kans gee om behoorlik in te sink,” sê Luus.

“Dit is ongelooflik wat die span bereik het. Maar ek is so trots, die spelers, die spanbestuurder tot by die fisioterapeut het almal ongelooflike werk gedoen.”

Nico Luus, afrigter van Tuks, het omtrent nie woorde om sy span se sege in die Varsitybeker-eindstryd te beskryf nie. Foto: Reg Caldecott

Luus, wat as speler die Valke in meer as 100 wedstryde verteenwoordig het, sê die beplanning vir die eindstryd het reeds begin toe hy 12 sleutelspelers teen die Ixias, sy span se laaste wedstryd voor die halfeindronde, ’n ruskans gegee het.

“Ons het besef as ons die eindstryd wil haal, is dit belangrik dat ons spelers vars is. Ons het geweet hul (die Ikeys se) rolmaalbewegings is uitstekend; die vraag was hoe kan ons dit stop,” sê Luus.

“Reghardt Botha (voorspeler-afrigter) se beplanning was goed; dit is ook hoekom ons ses balle in die lynstane gesteel het.”

Luus sê hy word omtrent oorweldig met oproepe van gelukwensing en ook van mense wat by Tuks betrokke wil raak.

“Hierdie Varsitybeker-reeks is absoluut ongelooflik. Ons het baie ondersteuning en boodskappe van oud-Springbokke en oud-Springbok-afrigters gekry,” sê hy.


Meer oor:  Varsitybeker  |  Tuks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.