Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks sweet teen Ixias in Bloemfontein
Theo Boshoff, losskakel van Tuks, het met drie doelskoppe en ’n strafdoel geslaag. Foto: Gallo Images

Tuks het Maandag op die harde manier geleer dat wedstryde in die Varsitybeker-reeks in Bloemfontein nie meer uitstappies is waar jy net opdaag en wen nie.

Die Pretorianers het hulself in ’n begeesterde Ixias-span vasgeloop en kan hulself waarskynlik gelukkig ag dat hulle met 40-23 gewen het – nadat hulle teen rustyd met 16-20 agter was.

Tuks se senter Sango Xamlashe het reg teen die einde ’n sewepunt-drie gedruk, wat die telbord bietjie vir die tuisspan beduiwel het.

Die veld was papsopnat van ’n reënbui wat vroeër die dag uitgesak het – met die gevolg dat hanteerfoute volop was.

Die Ixias het met rustyd voorgeloop, ná twee drieë kort voor die omdraaislag. Die heelagter, Cohen Jasper, en die senter en kaptein, Heino Bezuidenhout, het vir vuurwerk agterlangs gesorg.

Om voor te loop, het die tuisspan duidelik baie selfvertroue gegee.

Dit het ook die tuisskare aan die gang gekry, wat met ’n gesingery soos ’n spreekwoordelike 16de speler vir die Ixias op die veld was.

Tuks het ná rustyd in die tuisspan se kwartgebied tent opgeslaan. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die Pretorianers sou oorduik om die telling gelyk te maak.

Daarna het die besoekers weer gaan druk om die voortou te neem, met hul pak voorspelers wat uitgestaan het.

Vir Tuks het die flank Hanru Sirgel uitgeblink. Hy was ’n gretige stormram met die bal onder die arm en het ook goeie balbesit in die lynstane verseker.

Ook die besoekers se senter Wian van Niekerk het uitgestaan en met ’n paar goeie lopies vorendag gekom.

Die Ixias se grootste swakpunt was beslis in die lynstane, waar die kommunikasie tussen die haker, Janus Venter, en sy springers beslis nie na wense was nie. Dit het die Bloemfonteiners onnodig onder druk geplaas.

Maar die Ixias hoef nie verleë oor dié vertoning te wees nie. Hulle het nooit gaan lê nie en vir ’n vale verdedig. Hul agtsteman, Gerhardus Nel, het ’n slag omgekeerde besit bewerkstellig en ’n barshou gespeel.

* Puntemakers: Tuks 40 (16): Drieë: Kabelo Mokoena (vyfpunt- en sewepunt-drie), Wian van Niekerk, Zander du Plessis, Sango Xamlashe (sewepunt-drie. Doelskoppe: Theo Boshoff (3). Strafdoel: Boshoff.

Ixias 23 (20): Drieë: Philippus Krugel (2 vyfpunt-drieë). Doelskoppe: Charles Williams (2). Strafdoele: Williams (3).

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Bloemfontein  |  Tukkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.