Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuks wen Varsitybeker met gemak
Tuks celebrating after winning the match during th
Tuks vier hul sege nadat hulle as 2021 se Varsitybeker-kampioen gekroon is. Foto: Christiaan Kotzé, Varsity Sports

Tuks is Maandagaand in Pretoria as 2021 se Varsitybeker-rugbykampioen gekroon toe hulle die Ikeys in die eindstryd geklop het.

Die Pretorianers het vier drieë, almal in die eerste helfte, gedruk om naelskraap met 34-27 te wen.

Soos verwag was dit veral in die eerste helfte ’n hewige skopstryd tussen die spanne.

Tuks se Zander du Plessis (heelagter) en James Tedder, losskakel van die Ikeys, het in die eerste helfte soms die bal ’n paar keer heen en weer vir mekaar geskop.

Sango Xamlashe, senter en kaptein van Tuks, draf deur vir sy drie. Foto: Catherine Kotzé, Varsity Sports

In die eerste helfte het Tuks behoorlik hul stempel op die wedstryd afgedruk en teen rustyd was die telling 31-10 in hul guns. Die rede hiervoor was eenvoudig: Die Pretorianers het meegeding op die Ikeys se ingooie in die lynstane en die Kapenaars met goeie verdediging hokgeslaan.

Die Ikeys was ook vir hulle eie ondergang verantwoordelik. Hulle het ’n paar keer die bal in kontaksituasies verloor en foute by die afbreekpunte begaan.

Toe Tuks se Hanru Sirgel (flank) kort voor die rustyd sy span se vierde drie gedruk het, het dit gelyk of die Ikeys se vlam geblus is.

James Tedder, losskakel van die Ikeys, sit af op ’n lopie. Foto: Christiaan Kotzé, Varsity Sports

Om sake vir die besoekers te vererger, is Tedder kort voor rustyd met ’n beenbesering van die veld. Sy naam het aanvanklik nie op die Ikeys se beginspan verskyn nie, maar hy het wel in die nr. 10-trui op die veld gedraf.

In die tweede helfte het die Ikeys met meer vuur gespeel, stewig geskrum en ook goed gelyk met die bal in die hand.

Hulle het kamp opgeslaan in Tuks se helfte van die veld vir die grootste gedeelte van die helfte. Toe Byron Cranswick (slot) kort ná rustyd gaan druk het dit gelyk of die Kapenaars terug in die wedstryd is.

Daar was nog geleenthede dat die Ikeys digby Tuks se doellyn gehad het, maar dit is ongedaan gemaak deur hanteerfoute en ook goeie verdediging deur die Pretorianers.

In laaste 40 minute het dit gelyk of Tuks bloot hul voorsprong verdedig. Die Ikeys het alles probeer, ’n rolmaalbeweging hier en ’n lopie daar, maar die Pretorianers het gehou. Toe vind die Ikeys eindelik nog ’n gaping in Tuks se verdediging toe Athi Gazi (heelagter) sy eerste van twee drieë gaan druk.

Teen die einde het die Ikeys baie naby aan ’n sege gekom, maar Tuks se vier drieë in die eerste helfte was net-net te ver om ongedaan te maak.

Die Pretorianers verdien vermelding vir hul vertoning by die afbreekpunte, met veral Sirgel wat uitgeblink het. Dit is een van die redes hoekom Tuks gewen het.

Du Plessis sluit hom binnekort by Griekwas aan.

Puntemakers:

Tuks 34 (31): Drieë: Cebolonkosi Dlamini, Sango Xamlashe (sewepunt-drie), Etienne Janeke, Hanru Sirgel. Doelskoppe: Zander du Plessis (3). Strafdoele: Du Plessis (2).

Ikeys 27 (10): Drieë: Robert Hunt, Byron Cranswick, Athi Gazi (2). Doelskoppe: James Tedder, David Hayes. Strafdoel: Tedder.

Speler van die Reeks: Cohen Jasper (Ixias)

Voorspeler van die Reeks: Tinotenda Mavesere (Universiteit van Wes-Kaapland)

Agterspeler van die Reeks: Munier Hartzenberg (Maties)

Meer oor:  Varsitybeker-Eindstryd  |  Varsitybeker  |  Tuks  |  Ikeys  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.