Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geelkaarte laat Leeus sweet vir sege oor WP

Jy kan jou goed indink dat ’n paar Leeus-spelers Woensdagaand lus was om hul spanmaats Jaco Visagie en Ruben Schoeman ’n paar taai klappe te gee. Want was dit nie vir die siniese geelkaarte wat hulle binne ’n minuut van mekaar gekry het nie, sou die Johannesburgers ’n veel makliker dag op kantoor teen die Westelike Provinsie gehad het.

Die Leeus is terug op die wenpad nadat hulle die WP Woensdag in ’n Curriebeker-rugbystryd met 38-32 geklop het – maar was dit nie vir Visagie en Schoeman se onbesonnenheid nie, sou hulle die oortuigende sege behaal het wat hulle eintlik verdien het.

Die WP-vleuel Seabelo Senatla het Woensdagaand deurgaans deur die Leeus se verdedigingslinie probeer breek, maar sonder sukses. Foto: Gallo Images


Met dié twee Leeus in die koelkas het die WP 22 onbeantwoorde punte binne net nege minute aangeteken, en binne ’n verdoelde drie van ’n sege gekom. Al wat dit verhoed het, was Visagie en Schoeman se terugkeer in onderskeidelik die 77ste en 78ste minuut, en die vol verdedigingslyn wat dit teweeg gebring het.

Visagie sou darem ook sy maats se ergste woede laat verdamp het toe hy die WP se laaste desperate aanval gestuit het deur die bal op die grond te steel.

Die eindtelling is eintlik ’n bitter onakkurate weerspieëling van die wedstryd, met die Leeus wat vir die grootste deel daarvan in alle fasette die kitaar geslaan het. Dieselfde groep spelers het verlede Vrydag teen die Pumas sleg op hul baadjie gekry ná ’n lamlendige vertoning in Mbombela, maar terug op hul tuisveld het hulle uit die staanspoor gretig gelyk om dit net ’n slegte herinnering te maak.

Daarin het hulle uitmuntend geslaag. Anders as teen die Pumas was hulle Woensdag stert in die lug in die skrums, verwoestend met hul rolmaalbewegings en giftig in spasie. Veral Vincent Tshituka, Rabz Maxwane en Jamba Ulengo het die Kapenaars laat bontstaan wanneer hulle die bal in die hand gehad het, terwyl Fred Zeilinga ook ’n pluimpie verdien vir sy goeie verspreiding.

Teen die tyd dat die rustydfluitjie geblaas het, het die tuisspan reeds ’n bonuspuntdrie in die sakkie gehad, en boonop al die momentum. Die WP was stert tussen die bene, met hul flank Evan Roos in die koelkas, en hul pogings om die Leeus se skanse af te breek, onsuksesvol.

Met die spanne se terugkeer na die veld het die tuisspan eenvoudig voortgegaan waar hulle opgehou het, met die haker PJ Botha wat sy tweede drie ná net drie minute gaan druk het.

Nog vier minute later het Maxwane ook met ’n tweetal drieë gespog, nadat hy in sy eie 22 onderskep en ongestoord deurgedraf het doellyn toe.

’n Mens het toe die gevoel gekry dat die slag gelewer was, maar die WP-spelers het nie gehou van daardie draaiboek nie. Vir die volgende tien minute het hulle die Leeus se damwal met die een golf ná die ander probeer breek, maar sonder sukses. Die Gautengers het verdedig asof hul lewe daarvan afhang.

Dit was eers toe Visagie en Schoeman twee agtereenvolgende rolmaalbewegings op siniese wyse probeer stop het, wat daar lig in die tonnel vir die WP gekom het. Met net 13 Leeus op die veld was daar enorme gate vir die Kapenaars om deur te hardloop, en hulle het dit met oorgawe gedoen.

Uiteindelik was die agterstand egter net te groot, met drie drieë (waaronder ’n strafdrie) en ’n strafdoel nie genoeg om hulle te red nie.

In die nadraai van die wedstryd sal albei spanne ’n paar dinge hê om in die kleedkamer te bespreek. Die WP se besluitneming en hantering kan beslis beter, en die Leeus het so byna op die harde manier geleer hoe ’n duur prys die hele span vir die swak dissipline van ’n individu kan betaal.

Puntemakers:

Leeus 38 (24): Drieë: Sibusiso Sangweni, Rabz Maxwane (2), PJ Botha (2), Ruben Schoeman. Doelskoppe: Fred Zeilinga (4).

WP 32 (10): Drieë: Juarno Augustus, strafdrie, Paul de Wet, Cornel Smit. Doelskop: Tim Swiel. Strafdoele: Swiel (2).

• Die Bulle en die Pumas pak mekaar Vrydag om 19:00 in die CB-reeks en die Griekwas speel Saterdag om 13:00 gasheer vir die Cheetahs.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.