Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Twee neefs soek goud

Cheslin Kolbe en Wayde van Niekerk het as seuntjies saam in die straat touchies gespeel en op die rugbyvelde van die Laerskool Simonsberg ’n skakelpaar gevorm wat kringe om die res gehol het.

Hy weet nie wie die vinnigste van die twee was nie, het Van Niekerk verlede jaar gespot.

En dit maak nie eintlik saak nie.

Want albei neefs was uiteindelik vinnig, dapper en gelukkig genoeg om hul pad na groot glorie oop te hardloop.

En aanstaande maand sal albei hul land in Rio de Janeiro op die Olimpiese Spele verteenwoordig.

Cheslin Kolbe in sy element met die ovaalbal onder die arm. Sy Olimpiese droom gaan aanstaande maand waar word. Foto: Gallo Images

Kolbe is Donderdag ingesluit in die Blitsbokke se span wat Olimpiese goud in sewesrugby gaan jag, en Van Niekerk, die heersende wêreldkampioen in die 400 m, is ’n groot gunsteling vir die Olimpiese kroon.

“Ons het ’n maand of twee gelede gepraat en gesê dit sal darem regtig lekker wees as ons albei Olimpiese Spele toe kan gaan en ons familie daar kan gaan trots maak,” het die 22-jarige Kolbe Donderdag gesê.

“Nou is dit ’n werklikheid en sien ons albei uit daarna om ons land te gaan verteenwoordig.”

Van Niekerk het Vrydag sy 24ste verjaarsdag gevier en is 15 maande ouer as Kolbe.

Nou is dit ’n werklikheid en sien ons albei uit daarna om ons land te gaan verteenwoordig.
Wayde van Niekerk. Foto: Getty

Met die 400m-ster deesdae ’n Bloemfonteiner en Kolbe steeds in die Kaap, sien hulle mekaar nie gereeld nie – maar die cliché van bloed wat dikker as water is, maak die afstand tussen hulle niksseggend.

’n Vraag oor hoe dit sal voel as hulle albei kan Olimpiese goud wen, is met ’n glimlag deur Kolbe begroet.

“Ja, dit sal geskiedenis wees, né,” het hy gesê.

En kan dit gebeur?

“Dit hang maar van jouself af wat jy van elke oomblik maak en hoe jy alles daar hanteer,” het hy geantwoord.

Hulle sal tyd maak om mekaar daar doer in die vreemde te sien, sê die Blitsbok-sensasie.

“Ons sal verseker bymekaar probeer uitkom. Dit sal lekker wees as vir hom kan gaan kyk in die 400 en hy wanneer ek speel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.