Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jean-Luc en Dan: Tweeling-tornado

Klagtes oor sy aandrang om sy oudste seun klokslag te kies, is dalk geregverdig, maar Robert du Preez kan maar met graagte sy losvoorspeler-tweeling se name in ink op sy spanlys hou.

Jean-Luc en Dan du Preez was kookwater in die Haaie se Superrugby-sege met 23-15 in hul eerste toerwedstryd gister teen die Waratahs in Sydney.

Dan du Preez in aksie vir die Sharks in gister se Superrugby-wedstryd teen die Waratahs in Sydney, Australië. Foto: getty

Die Haaie het hard geveg om nie vir die eerste keer sedert 2016 drie wedstryde agtereenvolgens in dié reeks te verloor nie. Hoewel die Durbaniete weer eens – soos in elke liewe wedstryd wat hulle in die afgelope drie jaar gespeel het – verskeie gulde geleenthede verbrou het, was hul verdediging tops. Desperaat selfs, asof die woorde van die voormalige Haaie-vleuel Tony Watson hulle besiel het om ’n groot vertoning te lewer.

Watson het Donderdag in ’n ope brief op IOL geskryf die Haaie lyk na ’n span wat met vrees speel. Hy het Du Preez se vermoë as afrigter bevraagteken en die breier se neiging gekritiseer om al drie sy seuns, Jean-Luc, Dan en die oudste, die losskakel Robert jr., bykans sonder uitsondering te kies as hulle fiks is.

Gister is Robert jr. oplaas ’n blaaskans gegun. In sy afwesigheid het Curwin Bosch skaflik vertoon in die nr. 10-trui, hoewel hy twee moeilike strafskoppe verbrou het.

Bosch het die voordeellyn aangeval en sy agterspelers behendig gevoed.

Dit was egter nie ’n agterspeler wat die Haaie vroeg die voortou laat neem het nie. Die agtsteman, Dan, het sy sesde drie van die seisoen gedruk om sy span vroeg te laat voorloop, maar die Waratahs het kort daarna teruggeslaan met ’n goeie drie deur die skrumskakel, Jake Gordon.

Curwin BoschFoto: getty

Teen rustyd was die telling met 10 elk gelykop, maar die Haaie het vyf minute ná die omdraaislag hul gesag begin afdwing nadat die Waratahs se dissipline hulle in die steek gelaat het.

Die Aussies se slot Jed Holloway het met 35 minute se speeltyd oor ’n rooikaart gekry nadat hy vir Thomas du Toit met die voorarm in die gesig geslaan het.

Die skeidsregter, Nic Berry, het om die een of ander onverklaarbare rede besluit om Du Toit ook ’n geelkaart te gee – omdat hy kwansuis vir Holloway sonder die bal teruggehou het.

Du Toit het Holloway se trui vasgehou, maar dit was in ’n dryfbeweging. Holloway het boonop geen invloed op die spel gehad toe hy deur Du Toit vasgehou is nie, so waarom dié Bok-stut met ’n geelkaart gestraf is, is ’n raaisel.

Vyf minute later het die Waratahs-flank Jack Dempsey ’n geelkaart gekry nadat hy Sbu Nkosi omgedop het.

Met slegs 13 spelers op die veld, kon die tuisspan nie al die gate toestop nie en André Esterhuizen het die Haaie se tweede drie gaan druk.

Daarna het Bosch se skopskoen die sege vir die besoekers verseël. ’n Troosdrie deur Bernard Foley het die telling meer aansien vir die tuisspan gegee.

Volgende op die Haaie se pad is die Crusaders en dan die Chiefs, voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer.

Dié vertoning was ver van volmaak, maar dit is ’n treetjie in die regte rigting vir die beleërde Du Preez sr. en sy troepe. Nou moet hulle hul chroniese wisselvalligheid afsweer en op dié sege voortbou.

Meer oor:  Robert Du Preez  |  Dan Du Preez  |  Tweeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.