Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Twyfel oor toekoms by Bulle kou Lood

Die afgelope twee en ’n bietjie seisoene was dit vir Lood de Jager ’n voorreg om te kan sê sy kantoor is die geroemde Loftus Versfeld. Hy het trots Blou Bul-blou gedra, gou deel van die Bul-familie geword en kliphard saam gebou aan die beter môre waarvan in Pretoria gedroom is.

Die Springbok-slot Lood de Jager ontspan in die swembad. Foto: Gallo Images

Maar ’n rugbyfamilie is natuurlik ’n kunsmatige ding, soos De Jager reeds in sy dae by die Cheetahs geleer het. Meer en meer het hy gehoor van Bul-spanmaats wie se koppe weg van Loftus Vers­feld staan, na rugbykatedrale in die Noordelike Halfrond.

Dít, sê hy die afgelope week, is hoekom hy nou ook eersdaags in die vreemde gaan gordyne ophang: Omdat die onsekerheid van bly groter geword het as die onsekerheid van gaan.

“Kyk, dit is op die oomblik maar moeilik in Suid-Afrika,” sê De Jager die afgelope week, kort nadat aangekondig is dat hy hom later vanjaar in Manchester in Engeland by die Sale Sharks gaan aansluit.

“By die Bulle weet niemand wie gaan bly en wie gaan gly nie. Soos dinge nou gaan in die oorsese mark is daar ’n klomp ouens wat nie weet of hulle volgende jaar nog by Loftus gaan wees nie – ouens soos Jesse (Kriel), Han­dré (Pollard), Duane (Vermeulen), Schalk (Brits) en RG (Snyman). Dit is moeilik om jouself nou vas te teken by die Bulle terwyl daar onsekerheid is oor die toekoms van ’n klomp van die span se topspelers.

“Ek het by die Cheetahs ervaar hoe moeilik dit is om as ’n span weer voor te begin nadat ’n klomp staatmakers weggegaan het. In ’n stadium daar het Adriaan (Strauss), Coenie (Oosthuizen), Trevor (Nyakane), Heinrich (Brüssow), Lappies (Labuschagné) en Johan Goosen almal geloop, maar ek het besluit om agter te bly. Dit was moeilik – jy speel teen spanne wat minder spelers verloor het en die telbord lyk sleg. Dit beïnvloed uiteindelik jou eie game.”

Ek het by die Cheetahs ervaar hoe moeilik dit is om as ’n span voor te begin.

Soos in enige Wêreldbeker-jaar word ’n reuse-uittog van spelers ná vanjaar se skouspel in Japan voorspel – en daar is niks wat die baadjiedraers van Suid-Afrikaanse rugby kan doen om dit te keer nie. Die Bulle se uitvoerende hoof, Alfons Meyer, het die afgelope week aan Netwerk24 gesê hulle het alles in hul vermoë gedoen om De Jager by Loftus te hou, maar “die swak rand maak dit bitter moeilik”.

Pollard is natuurlik ook reeds gekoppel aan ’n skuif na Montpellier in Frankryk, hoewel hy volgens Meyer nog nie pen op papier gesit het nie. By die Bulle, soos by alle Suid-Afrikaanse unies, is dit duidelik dat jy nie kan hoes teen die donderweer van Europese beursies nie.

Die kwessie van ’n vetter spaarvark wat ’n salaris in ponde meebring, word nie deur De Jager geopper nie. Of dit die pyn van vertrek sal salf, sal net die tyd leer.

De Jager sê die besluit om vir Sale te gaan speel was een van die moeilikste van sy lewe – veral omdat hy weet die Bulle het iets spesiaals probeer bou onder hul nuwe afrigter, Pote Human.

“Ek is nog rêrig passievol oor die Bulle en ons kon miskien groot hoogtes hier bereik het. Maar daai eksterne faktore het dit taai gemaak. As ons die kern van die huidige span kon hou, sou dit anders gewees het.

“Al die ouens wat by die Bulle weggaan – dit is nie dat hulle dit noodwendig wóú doen nie,” sê De Jager.

Hy sê hy het ook aanbiedinge van Franse klubs gekry, maar eindelik die Sale Sharks gekies omdat hy daar makliker toegelaat sal word om vir die Springbokke te speel.

Die idee van huis-opsit in Manchester hou ook vir hom ’n sekere bekoring in – veral omdat hy nou kan droom van koue aande by Old Trafford, die tuiste van sy gunsteling-sokkerspan.

“Ek moet dit seker nie hardop sê nie, maar ek is ’n groot Manchester United-ondersteuner,” sê hy. “Die laaste paar jaar hou ’n ou dit stil, maar dit sal lekker wees om (hul wedstryde) te gaan ervaar.

“Dit was moeilik vir my om vrede te maak met my besluit,” gaan De Jager voort, “maar dit is wat dit is en ek is nou opgewonde om te gaan. Sale is ’n klub met baie ambisie. Hulle was die laaste paar jaar nie so goed nie, maar met nuwe eienaars en nuwe afrigters het hulle groot planne.

“Jy kan dit sien in die werwing wat hulle gedoen het. Hulle het jong ouens gekontrakteer wat nog ’n hele ruk vir die klub kan speel. Daar is ouens soos Faf (de Klerk) wat vir ’n lang tydperk geteken het.”

Benewens De Jager is al drie die Haaie se Du Preez-broers – die losskakel Robert en losvoorspelers Dan en Jean-Luc – en die haker Akker van der Merwe ook op pad Sale toe. Daar is boonop gerugte dat Coenie Oosthuizen ook daarheen gaan.

Josh Strauss, Jono Ross en Rohan Janse van Rensburg is almal reeds op die klub se boeke.

Vir De Jager is dit ’n pluspunt.

“Dit het ’n rol gespeel in my besluit, want dis nie asof jy alleen daar gaan wees nie. ’n Klomp van ons wat oor die jare vriende geraak het en mekaar lank ken, gaan nou saam daar aankom. Dit beteken ’n ou kan nog ’n lekker braai hou, al is die weer nie miskien so lekker daarvoor nie,” sê hy.

Voordat hy op die vliegtuig Engeland toe klim, is daar eers ’n ander fokus vir De Jager: Om te herstel van die skouerbesering wat hom sedert Maart op die kantlyn hou. Dis ’n beproewing, sê hy – veral omdat hy ook die grootste deel van verlede jaar beseer was.

“Op die oomblik vat ons dit dag vir dag,” sê hy. “Ek het die spesialis gesien en hy is baie gelukkig. Ons glo dit gaan nog so ses weke wees voordat ek weer speel – dalk ’n bietjie minder of ’n bietjie meer.”

Meer oor:  Lood De Jager
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.