Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tyrone wil Rassie wys hy’s reg vir Bok-trui

Tyrone Green het die wenkbroue van menige rugbyentoesias laat lig toe hy verlede maand aangekondig het dat hy die 21-dag-klousule gebruik om uit sy kontrak met die Leeus te kom.

Tyrone Green in Februarie voor die Leeus se wedstryd teen die Waratahs in Sydney. Foto: Getty Images

En toe hy besluit sy heil lê in Engeland, is geskinder dat hy sy rug op die Leeus gedraai het omdat die land se vleuelspens oorlopens toe vol is.

Maar basta daarmee, sê Green. Dit was nooit eens ’n faktor nie. Al beskik Suid-Afrika tans oor van die beste vleuels in die wêreld in Cheslin Kolbe, Sbu Nkosi, en Makazole Mapimpi, glo Green hy kan nog sy pad boontoe oopveg.

Hy glo ook vas dat die vaardighede wat hy in Engeland by sy nuwe klub, Harlequins, gaan aanleer, hom sal help om sy droom van die Springbok-trui waar sal laat word.

“Dit was nie ’n besluit wat ek in die tydperk van daardie 21 dae geneem het nie. Dit is iets waaroor ek al lank dink. Die klousule het dit net dit ’n bietjie verhaas. Die 21-dag-klousule het net die besluit om te gaan gouer laat gebeur,” sê hy aan Rapport.

My teiken is nog om die Groen-en-goud-trui te dra. Dit verander nie.

“Vir my was dit die beste besluit in belang van my loopbaan. Deur oorsee te gaan, glo ek, sal ek my spel kan verbeter en my rugby na die volgende vlak toe neem. Ek voel Harlequins is ’n topklub en die tegniese en taktiese vaardighede waaroor jy moet beskik om in die Premierskap ’n sukses te wees, is iets waarby my spel sal baat vind.

“Ek het gevoel my rugby kan net verbeter deur in die Premierskap te speel. Ek wil my rugby en my loopbaan verbeter, en vir my is dit die volgende stap.

Tyrone Green

“Die feit dat die Springbokke oorsese spelers kies, was ook ’n massiewe faktor in my besluit om Engeland toe te gaan. Dit het niks te make gehad met my teenstanders hier en die goeie vleuels in die land nie.

“Ek het nog nooit ’n probleem daarmee gehad nie. Dit maak nie saak nie – ek moet net my eie potensiaal bereik.

“Baie mense kan miskien dink dis oor die ander spelers, maar my besluit is nie op ander mense gegrond nie.

“Ek het dit sover gemaak sonder dat dit ooit iets was wat my beïnvloed het, so dit sal definitief nie verander nie.

“Ek weet Rassie (Erasmus) en Jacques (Nienaber) kies spelers van oorsee af. Dit kan ’n bietjie moeiliker wees, maar ek weet dit is in my hande. As ek tot my volle potensiaal speel en my beste spelpeil wys, sal ek dit maak. My vertonings sal die meeste vir my tel.”

En ’n Bok wil hy word. Al kom die Engelse en klop aan sy deur.

“My toekoms is definitief nog by die Bokke. My teiken is nog om die Groen-en-goud-trui te dra. Dit verander nie. Die deurslaggewende faktor was beslis dat die Bokke spelers van oorsee sou kies. Dit het my besluit maklik gemaak en dit was ’n suiwer loopbaanbesluit.

“My toekoms bly by die Bokke.”

Green lag as hy oor frustrasie praat – die inperking is een ding wat hom ’n bietjie frustreer. Hy behoort in Julie by sy nuwe klub aan te sluit, maar die visumproses is moeilik, veral in die huidige inperkingstyd.

“Dit is frustrerend vir my, ek wil altyd op die veld wees. Maar dit is wat dit is, en ek geniet die rus en die tyd saam met die familie. Ek oefen so baie as wat ek kan. Dit is jammer ons kan nie tans wedstryde speel nie, maar daar is nie baie wat daaraan gedoen kan word nie.”

Die 22-jarige Green sal hom saam met sy verloofde, Erin Lang, buite Londen gaan tuismaak.

Buiten vir die rugby en lewe in Engeland sien Green ook baie daarna uit om sy guns­telingsokkerspan, Manchester United, in aksie te sien.

Meer oor:  Harlequins  |  Bokke  |  Tyrone Green  |  Leeus  |  Springbokke  |  21-Dae-Klousule  |  Rassie Erasmus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.