Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Michal Haznar: Uit die kake van die Hond

Op ’n dag in 2018 het Michal Haznar by sy huis ingestap met ’n wolk oor sy kop.

Sy gedagtes het deur sy kop gemaal. Dit was “oral en nêrens,” onthou hy.

Michal Haznar droom van Springbok-kleure, maar besef hy sal homself eers op Super-vlak moet bewys. Foto: Gallo Images

Agter hom was ’n baie suksesvolle Varsitybeker-seisoen vir die Maties, maar ook ’n polsoperasie. Van fokus was daar geen sprake nie. Die Swart Hond – depressie – het in sy nek geblaas en selfs daartoe gelei dat hy ’n eksamen gemis het.

Die jong Stormers-senter het die afgelope week openhartig gepraat oor die nagdonkerte waarin hy hom twee kort jare gelede bevind het. Van die dwelms waarmee hy uit die duisternis probeer ontsnap het . . .

“Ek onthou hoe ek eendag van die universiteit af tuisgekom het en net nie kon fokus nie. Ek het selfs ’n eksamen gemis,” vertel Haznar.

“Ek is dokter toe om ’n nota te kry vir die eksamen wat ek gemis het, en toe begin ek net afpak. Ek het vir hom gesê ek gaan deur ’n moeilike tyd en vertel van die dwelms wat ek gebruik het om my deur daardie donker tyd te kry.

“Hy het my met depressie gediagnoseer, ’n sielkundige aanbeveel en sterk antidepressante voorgeskryf.

“Ek het deur ’n moeilike tyd in my persoonlike lewe gegaan. Baie dinge het gebeur waardeur ek moes werk. Dit was swaar dae.”

Die 26-jarige Haznar is een van die weiniges in rugby wat besluit het om hart oop te maak oor sy depressie, in die hoop dat sy storie ander kan inspireer.

My God het my daardeur gelei.

Daar is ’n uitweg daarvoor, wil hy by mense tuisbring. Vir hom was dit sy geloof, sy liefde vir sy rugby en die ondersteuning van sy familie.

Die antidepressante wat die dokter voorgeskryf het, het hy net so eenkant toe geskuif.

“Ek glo nie in pille nie, so ek wou dit nie drink nie en het myself daarsonder uit daardie gat gekry. My God het my daardeur gelei. En my ma, Lorraine, en my broers, Dariusz en Jarek.”

Haznar, wat van Poolse herkoms is, in Namibië gebore is en grootgeword het in Raithby, naby Somerset-Wes, het nooit sy pa geken nie.

“Ek het planne gehad om hom verlede Desember vir die eerste keer te ontmoet, maar hy het afgesterf (voor dit kon gebeur. Dit was moeilik vir my,” erken hy.

Haznar het nietemin nooit gehuiwer om dinge te soek waarmee hy ’n vol lewe kon lei nie. Een van daardie dinge was rugby – die sport wat sowel roeping as redding was, en hom al op wonderlike paadjies geneem het.

Die jong Namibiër was in 2017 en 2018 ’n uitblinker vir die Maties. Hulle het in albei daardie jare die Varsitybeker-eindstryd gehaal en die kompetisie in 2018 gewen.

In 2017 het Haznar boonop met die Westelike Provinsie se blou en wit hoepels om sy lyf gespeel, as lid van die span wat die Supersport-uitdaagreeks gewen het.

Die lewe was goed – tot hy sy pols beseer het en kantlyn toe gedwing is.

Ná dit en die stryd met die Swart Hond is Haznar in 2019 al die pad Kimberley toe. En daar, vertel hy, het hy weer begin kop optel.

“Die geleentheid om aan die einde van 2018 na Griekwas te gaan, het my goed gedoen. Dit het op die regte tyd gekom,” sê hy.

“Ek kon daar baie introspeksie doen en aan myself werk. Ek voel ek het goed gedoen op en van die rugbyveld.

“Die struikelblokke wat voor my was, het ek oorkom. My ma het vir my gebid, my broers het my geïnspireer met boodskappe. Hulle kon nie saam met my Kimberley toe gaan nie, maar het my altyd uit die Kaap uit ondersteun.

“Daar was pluimpies vir as ek die dag goed gespeel het, maar ook opbouende kritiek as dinge nie so goed gegaan het nie.”

Haznar glo sy tyd by Griekwas was die regte doepa om sy loopbaan weer skop te gee. Hy het uitgeblink in die Curriebekerreeks en was veral onverskrokke op die verdediging.

Hy het ook ’n oog vir ’n gaping op die aanval gewys – en die lekkerkry van sukses het weer sy liefde vir die spel aangevuur.

Vir daardie geleentheid is hy eindeloos dankbaar.

So indrukwekkend was hy in sy Curriebeker-seisoen by die Poubloues dat die Stormers hom ’n enkelkaartjie terug Kaap toe aangebied het.

Danksy ’n onblusbare droom om Superrugby te speel is hy sonder huiwering terug huis toe. In die ses wedstryde wat die Stormers voor die opskorting van vanjaar se Superreeks gespeel het, het Haznar nie speelkans gekry nie – maar dit beteken nie hy droom nie groot nie.

Die Springbok-trui is sy grootste ideaal – een waarvoor hy selfs verlede jaar die kans om Wêreldbeker toe te gaan opgeoffer het.

As gebore Namibiër kon hy vir die Welwitschias gespeel het en saam met hulle na die Wêreldbeker-toernooi in Japan gegaan het. Maar dit was nie ’n aanloklike gedagte nie. Dis die Groen-en-goud wat sy hart laat vinniger klop.

“Ek het die wilskrag, die vasberadenheid en die talent om dit te maak tot op die hoogste vlak. Alles gaan net oor daardie een geleentheid,” sê Haznar.

Maak nie saak wat jou agtergrond is nie, daar is altyd daardie geleentheid om bo jou omstandighede uit te styg.

As Haznar nie tyd op die rugbyveld of tussen die boeke deurbring nie, bou hy aan ’n 1989 Volkswagen Golf GTI Mk2. Hy hoop om dit eendag op die Killarney-renbaan te bestuur.

Hy en sy broer Jarek is ook besig om hul motorhuis in ’n gimnasium te omskep om in die toekoms minder bevoorregte kinders in hul gemeenskap ’n plek te gee waar hulle kan oefen.

Ná alles wat gebeur het, is sy liefde en passie vir rugby terug. Dis jammer dat die Covid-19-pandemie hom nou daarvan weghou, maar, sê hy, sy stryd teen depressie het hom goed voorberei vir dié frustrasies.

“Hopelik kry ek in die Superrugby iewers die kans om my te meet volgens internasionale standaarde,” sê Haznar. “En indien ek dit nie maak nie, sal ek steeds ander mense se lewens wil aanraak en hulle inspireer met die wyse waarop ek leef. Of dit ’n jongeling of ’n grootmens is.

“Net om aan hulle te sê: as jy daardie motivering en dryf het, daardie Christelike waardes en plat-op-die-aarde-houding, kan jy die doelwitte bereik wat jy vir jouself gestel het.

“Maak nie saak wat jou agtergrond is nie, daar is altyd daardie geleentheid om bo jou omstandighede uit te styg.”

Hond byt wyd

Geestesprobleme is ’n ongelukkige werklikheid in Suid-Afrikaanse rugby, aldus ’n verslag wat MyPlayers in Februarie ná ’n meningspeiling met al die land se beroepspelers opgestel het.

Volgens dié verslag het elke respondent gesê hy ly aan angstigheid weens ’n verskeidenheid faktore wat insluit beserings, swak vertonings, egskeidings en kommer oor kontrakte.

Vier uit tien spelers het gesê hulle het ’n sielkundige afwyking en ’n derde het aangedui hulle ly aan slapeloosheid.

Een uit elke 20 het selfs erken hulle is verslaaf aan slaapmiddels.

Weens ’n “cowboys don’t cry”-mentaliteit is geestesgesondheid egter nie iets waaroor baie in SA rugby gepraat word nie.

Terwyl Suid-Afrikaanse spelers hul sielkundige probleme nie graag aan die groot klok hang nie, het internasionale spelers soos Engeland se Wêreldbeker-wenner Jonny Wilkinson, sy landgenoot James Haskell en die Nieu-Seelander John Kirwan almal al hul harte oopgemaak oor hul stryd met depressie.

Kirwan het selfs onlangs sy eie app ontwikkel wat spesifiek fokus op geestelike welstand.

Ook in krieket is spelers nie immuun teen ’n siekte soos depressie nie.

Indië se Mohammed Shami en die Australiër Moises Henriques, wat albei internasionale krieketsterre is, het die afgelope maand in openhartige onderhoude erken dat hulle weens depressie al oorweeg het om hul eie lewe te neem.

Die Australiër Glenn Maxwell het in Maart in ’n onderhoud gebieg hy het weens sy depressie gewens sy arm het verlede jaar tydens die Wêreldbekerkriekettoernooi gebreek sodat hy ’n blaaskans kon kry.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Depressie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.