Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Uit donker doolhof na ’n pot goud

In die drie weke dat Mark Alexander ’n Japanse hotel met die Springbok-span gedeel het tydens hul Wêreldbeker-veldtog, het hy knaend dinge gesien en gehoor wat hom oortuig het die Webb Ellis-trofee sal vroeg November in Suid-Afrikaanse hande geplaas word.

Twee spelers, van verskillende rasse en verskillende agtergronde, wat met een lepel uit ’n roomysbak eet. ’n Speler soos Lood de Jager wat tot ná donker sit en lynstaanplanne maak. Die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, se verwysing na die 1 500 Springbokke wat die nasie tot op hierdie punt gebring het – ’n ordentlike raps meer as die amptelike syfer van 915 en onomwonde erkenning vir die mans wat voor demokrasie met Saru-truie tevrede moes wees.

’n See van euforie . . . Mark Alexander, Saru-president, sê hy het op die Bok-bus wat deur Kaapse strate gestoei het weer onthou hoe sport ’n nasie kan verenig. Foto: Jaco Marais

“Jy weet, die slagspreuk van #StrongerTogether het van die span self gekom. Dit was hulle wat besluit het om die hele land só deel van hul veldtog te maak,” sê Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), gister.

“Ek sou sê 50% van hul suksesresep was strategie en planne, en die ander 50% was die 57 miljoen Suid-Afrikaners vir wie hulle gespeel het. Dis regtig nie ’n cliché nie. Daar was soveel video’s en boodskappe wat mense van hier af vir hulle gestuur het en wat hulle aangevuur het. Hulle het regtig vir die hele land gespeel, hulle was vasbeslote om vir Suid-Afrika te wen.

“Ek het by die toernooi ’n hotel met hulle gedeel, maar ek het my eenkant gehou en van ’n afstand af gekyk hoe hulle mekaar behandel. Hoe hulle saamgewerk het, saam geëet het, alles saam beplan het. As hulle in groepies gesit het, was dit nie volgens ras nie, maar volgens hul rolle in die span.

Mark Alexander saam met Saru se uitvoerende hoof Jurie Roux (links) en die Bok-breier, Rassie Erasmus, met rugby se mooiste pot goud.

“Die rassiste in hierdie land is mense van my generasie. Ek het een dag in die parlement gesê, ons sien kleur, maar ons spelers sien mense. By die Wêreldbeker was dit só belangrik. Hulle het vir mekaar gespeel, hulle sou vir mekaar sterf.”

Jy kan Alexander nie verkwalik dat hy ’n nattigheid om die oë kry terwyl hy terugdink aan wat hy in Japan beleef het nie. Hy was immers daar toe Siya Kolisi, Faf de Klerk en Cheslin Kolbe ewe hard onder die goue glinster van die Wêreldbeker-trofee gebrul het. Hy was op die oopdak-bus wat die Goue Koppie deur die strate van Kaapstad gedra het, tydens ’n trofeetoer waarin jubelende swart mense ewe opgewonde oor ’n De Klerk as ’n Kolisi was, en wit hande ewe geesdriftig na ’n Mtawarira as ’n Marx uitgesteek is.

Op daardie bus, sê hy, het hy ’n hele warboel van emosies gehad.

“Ons het soveel gesigte vol hoop gesien, soveel mense wat trane van vreugde stort. Nie net uit ’n rugby-oogpunt nie, maar in die groter prentjie vir die hele land, het hierdie span vir ons gewys ons is werklik sterker saam. Ons het ook nou weer gesien sport trek werklik die nasie meer saam as enigiemand anders. As ons kan bly wees oor wat op ons sportvelde gebeur, val ons mekaar nie persoonlik aan nie, ons peper mekaar nie met rassistiese aanvalle nie, ons klim nie in faksies nie. Ek hoop net ons kan nou bou op die positiewe dinge wat hieruit gekom het,” sê Alexander.

Vir Saru is hul belangrikste prioriteit nou om die Springbokke se momentum te behou.

Veral in 1995, en ook in 2007, het Wêreldbeker-suksesse die land ook kortstondig verenig, net vir die Bokke om in die volgende seisoene weer agteruit te boer.

“Ons het gefaal ná 1995 en 2007, die momentum is verloor. Ons moet daaruit leer en hierdie keer alles in ons vermoë doen om te keer dat ons weer terugsak, soos toe,” sê Alexander.

Wie weet wat kan gebeur as die vlam van #StrongerTogether aan die brand gehou word?

“Elke keer wanneer ons ’n Wêreldbeker wen, wil mense die afrigter verander, en ’n nuwe stelsel inbring. Ons gaan nie dié keer nie. Rassie bly die persoon verantwoordelik vir die Bokke, al is dit nou in ’n ander gedaante, en dis reg so. Ons is ontsettend geseënd om hom in Suid-Afrikaanse rugby te hê.

“Dit was nooit vir ons nodig om in te gryp en vir hom te sê hy is op die verkeerde pad nie. Daar was nooit eens sprake daarvan nie. Hy het presies geweet wat sy mandaat was en dit met groot professionaliteit en baie harde werk nagekom.

“Hy was altyd eerlik met ons, hy kon altyd verduidelik hoekom hy doen wat hy doen. Hoekom hy sekere spelers wou Washington toe neem, hoekom hy X in wedstryd Y wou doen.

“Daardie selfde eerlikheid met sy spelers het hulle vasgegom tot ’n groep wat vir hom gespeel het. Soos ons, het hulle ook altyd geweet waar hulle staan.

“Die speelstyl waarmee hy die Wêreldbeker gewen het, hoef ook nie te verander nie. Die span het daarby ingekoop en dis ’n styl waarmee ons tot ons sterkpunte speel. Laat die All Blacks op hul All Black-manier speel en die Australiërs op hul Australiese manier. Ons sal speel soos ons speel.”

Dat Alexander nou in ’n posisie is waar hy en Saru planne vir die toekoms kan maak sonder enige inmenging, staan in sterk teenstelling met die trauma van 2016 en 2017.

Alexander kry waarskynlik steeds koorsdrome oor die doolhof van probleme wat daar aan die begin van die pas afgelope Wêreldbeker-siklus was.

“Veral 2016 was ’n baie donker tyd,” onthou hy. “Ons is aangespreek omdat ons nie ons transformasie-teikens gehaal het nie, en in korporatiewe Suid-Afrika was daar die indruk dat ons en die regering nie om dieselfde vuur sit nie.

“Net in daardie jaar het 25 Springbokke of uitgetree of oorsee gaan speel – en vier van hulle was kapteins: Jean de Villiers, Schalk Burger, Victor Matfield en Fourie du Preez. So daar is blootgestel hoe swak ons beplanning was – ons het geweet dit kom, maar het nie planne daarvoor gehad nie.

“Ons president (Oregan Hoskins) het daardie September bedank en ek moes ’n organisasie oorneem wat R130 miljoen swakker daaraan toe was omdat borge weggestap het.

“Dit was baie moeilike tye, maar ons het ’n 100 dag-plan, wat uiteindelik ’n langtermynplan geword het, opgetrek, na die uitvoerende hoofde van 480 maatskappye landwyd gegaan en gesê, hier is ons probleme, ons is gebreek, maar hier is hoe ons onsself weer heel gaan maak. Teen Junie 2017 het MTN ons SOS geantwoord en kort daarna ook Eerste Nasionale Bank, en kon die herstelproses begin. Nou staan ons finansieel sterk en sal ons hopelik volgende jaar dinge in plek kan plaas wat ons op ’n selfs beter plek gaan plaas, op ’n veel hoër vlak finansieel.

“Toe dit so swaar gegaan het, het ons vir mekaar gesê, daar gaan baie geraas wees, maar fokus net op die plan, want dis wat ons gaan red. En dit bly die uitkyk: Ignoreer die geraas en konsentreer op die uitkoms.

“Kyk na transformasie, waaroor daar altyd vreeslik baie geraas sal wees. Die werklikheid van transformasie is dat dit noodsaaklik is vir ons sport se oorlewing. Ons wit en bruin gemeenskappe raak ouer, so ons moet in die onontginde mark van ons swart gemeenskap delf, want anders gaan rugby, soos ons dit nou ken, teen 2030 nie meer bestaan nie. Maar dis ook makliker gesê as gedaan. In omtrent 80% van ons staatskole is daar geen sport nie, nie eens liggaamlike opvoeding nie. In die Oos-Kaap, waar omtrent 50% van ons spelerbasis is, gaan die meeste kinders skool toe sonder ’n behoorlike maaltyd. Dis nie ’n basis waarop toprugbyspelers gebou word nie.”

Dis ’n probleem wat in die stadium nog nie ’n oplossing het nie, gee Alexander toe. Maar hy het al aan sy eie bas gevoel hoe die gety kán draai.

Wie weet wat kan gebeur as die vlam van #StrongerTogether aan die brand gehou word?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.