Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Uitgewer hou Beast-boek terug ná kritiek
Die omslag van Tendai Mtawarira se outobiografie, Beast.

Die uitreiking van Tendai Mtawarira se outobiografie, Beast, is uitgestel nadat ’n herrie ontketen is deur kritiek wat hy teen die gewese Springbok-afrigter Peter de Villiers in die boek uitspreek.

Lede van die media wat die boek vooraf vir resensie-doeleindes ontvang het, is versoek om dit aan die uitgewer terug te besorg en nie verdere besonderhede daaroor bekend te maak nie.

Die aanvanklike plan was om die boek op 1 Julie bekend te stel, maar dit sal nou eers “later in die jaar” gebeur, aldus die uitgewer, Pan Macmillan.

Mtawarira sê in ’n verklaring die bekendstelling is uitgestel sodat hy “uitsluitlik kan fokus op sy voorbereiding vir ’n moontlike insluiting in die Wêreldbeker-groep”.

“Met die reaksie van sekere kommentators op ’n enkele paragraaf in die boek as ’n moontlike rigtingwyser na die vlak van die media se aandag en belangstelling, het ons gevoel dis nodig om die bekendstelling van die boek uit te stel,” sê Mtawarira.

’n Nuwe datum sal later bekend gemaak word.

Hy was ’n puik afrigter van die Junior Springbokke, maar ek dink op ’n hoër vlak was hy waarskynlik gelukkig dat ’n baie goeie groep spelers aan hom oorhandig is.
Beast Mtawarira

In sy boek sê Mtawarira dat De Villiers gelukkig was om met die kalwers van sy voorganger, Jake White, te kan ploeg. Hy voer aan die span is deur ’n sterk groep spelers eerder as De Villiers gelei en sê selfs dat De Villiers “nie veel gedoen het nie”.

“Hy (De Villiers) was ’n puik afrigter van die Junior Springbokke, maar ek dink op ’n hoër vlak was hy waarskynlik gelukkig dat ’n baie goeie groep spelers aan hom oorhandig is,” skryf Mtawarira.

Suid-Afrika het in 2007 die Wêreldbeker-toernooi gewen met White wat ’n kern senior spelers agtergelaat het. Dit het Victor Matfield, Fourie du Preez, Schalk Burger, John Smit, Bakkies Botha, Danie Rossouw, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Bryan Habana en JP Pietersen ingesluit.

“Sy metodes en benadering het nie juis gewerk met die Springbokke nie en as spelers moes ons baie versigtig wees wat ons aan die media sê. Wat jy sê, sou by Peter uitkom en jou plek in die span raak,” skryf Mtawarira.

Tendai Mtawarira se outobiografie gaan nou eers later uitgereik word. Foto: Gallo Images

“Die media het nie van Peter gehou nie en het gedink hy was ’n bietjie van ’n hanswors. Daar’s geen twyfel nie dat hy gelukkig was dat hy aan die spits was van ’n span wat op eie stoom kon voortgaan.

“Meeste van die werk is deur spelers gedoen, met Gary (Gold) en Dick (Muir) wat baie invloedryk was.”

Gold en Muir was onderskeidelik die voorspeler- en agterlynafrigter.

Mtawarira het De Villiers wel geloof vir sy “wysheid” om spelers toe te laat “om hulself uit te leef”.

“Hy het geweet daar was niks wat hy Victor (Matfield) oor lynstane kon leer nie, maar Victor het hulp ontvang by Gary Gold, wat baie navorsing gedoen het,” skryf Mtawarira.

Pan Macmillan het vroeër vandeesweek ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy Mtawarira se “respek” vir De Villiers beklemtoon.

“Peter was die afrigter wat my eerste vir die Bokke gekies het en het deur al die moeilikheid met die minister van sport by my gestaan het, so ek is baie dank aan hom verskuldig,” sê Mtawarira in die verklaring.

Makhenkesi Stofile, destydse minister van sport, het in 2010 probeer verhoed dat Mtawarira vir Suid-Afrika speel omdat hy toe nog ’n Zimbabwiese en nie ’n Suid-Afrikaanse paspoort gehad het.

Meer oor:  Beast Mtawarira  |  Peter De Villiers  |  Durban  |  Boek  |  Biografie  |  Springbok  |  Afrigter  |  Rugby  |  Stut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.