Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ulster se ‘baldiewe’ fnuik Cheetahs

Verbroude kanse deur die Cheetahs het daartoe gelei dat hulle tweede gekom het in hul Pro14-wedstryd teen Ulster in Belfast, Ierland, Saterdagaand.

Die Iere het die Bloemfonteinse span met 20-10 geklop en het die oorwinning verdien nadat hulle die Cheetahs by die afbreekpunte tot oorgawe gedwing het. Hulle was rustyd ’n kortkop met 10-3 voor.

Ruan Pienaar Foto: Gallo Images

Die Cheetahs het ná dié nederlaag – hul tweede van drie wedstryde op toer – tot die vierde plek op die puntelys in Afdeling A teruggesak. Die Glasgow Warriors lê nou derde nadat hulle tuis met die Dragons afgereken het.

Die sprokies-terugkeer na die Kingspan-stadion het toe nie uitgedraai soos die Cheetah-kaptein, Ruan Pienaar, gehoop het nie, maar hy is staande toegejuig toe hy minute voor die einde vervang is.

Ulster het die nat toestande beter as die Cheetahs gehanteer en het ’n skrikbewind by die afbreekpunte gevoer.

Terwyl die Cheetahs die een ná die ander geleentheid geskep het, kon hulle dit nie in punte omskep nie. Dit blyk ’n siekte te wees, want hulle werk hard, maar het niks om daarvoor te wys nie.

Dit het ook nie gehelp dat die haker Wilmar Arnoldi ’n geelkaart gekry het omdat hy ’n rolmaalbeweging afgetrek het nie, want Ulster het onmiddellik toe hy af is, gaan druk.

Die tuisspan het by verre die meeste besit gehad en besit wen wedstryde, dis nie ’n geheim nie.

Hoewel die Cheetahs goed verdedig het, sou hulle eerder verkies het dat hulle op die aanval beter was. Daarby het die lynstane ook gelol.

Die Cheetah-vleuel Rhyno Smith en die senter William Small-Smith het goed vertoon, so ook Clayton Blommetjies – wat die enigste drie gedruk het – maar die Cheetahs het met tye soos afkop-hoenders rondgeskarrel.

Ulster se Springbok-stut, Marcell Coetzee, het weer gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word. Hy het inklimspel vir sy span gelewer.

Drieë deur die vleuel Robert Baloucoune en die plaasvervangerstut Tom O’Toole was genoeg vir ’n oorwinning, maar dit was die uitmuntende spel deur hul losskakel Bill Johnston (Speler van die Wedstryd), wat die Cheetahs op die agtervoet gehou het.

Volgende week kom die Cheetahs teen die Dragons in Newport te staan en hulle kan met ’n oorwinning verlore aansien herwin, anders is dit weer ’n nagmerrietoer soos met die eerste een van die seisoen.

* Puntemakers:

Ulster 20 (10): Drieë: Tom O’Toole, Robert Baloucoune. Doelskoppe: Bill Johnston (2). Strafdoele: Johnston (2).

Cheetahs 10 (3): Drie: Clayton Blommetjies. Doelskop: Ruan Pienaar. Strafdoel: Pienaar.

Meer oor:  Ulster  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.