Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ungerer bedank Pumas vir blink spel

Die tyd wat hy by die Pumas deurgebring het, was belangrik vir sy rugbyloopbaan, sê die Southern Kings-skrumskakel Stefan Ungerer.

Stefan Ungerer in aksie die afgelope Sondag teen Leinster in Port Elizabeth. Links van hom is die agtsteman Ruaan Lerm, wat hom baie gehelp het. Foto: Gallo Images

Ungerer het Sondag vir die Kings teen Leinster in ’n Pro14-wedstryd uitgedraf nadat hy verlede maand nog vir die Pumas in die Curriebeker-reeks gespeel het.

“Ek het my tyd by die Pumas ongelooflik baie geniet. Daar het ek weer my selfvertroue as ’n speler teruggekry, omdat ek aanhoudend gespeel het,” sê die 24-jarige skrumskakel.

Voordat hy Pumas toe is, was Ungerer ook by die Kings.

“Ek dink nie ek was in die beste toestand toe ek laas (die begin van verlede jaar) hier aangekom het nie,” sê hy.

“Ek het van die Haaie af gekom met ’n besering en moes aanvanklik rehabilitasie-oefeninge doen.”

Toe Ungerer eindelik speelkans gekry het, moes hy met Louis Schreuder, wat toe skitterend op dreef was, vir ’n plek in die uitsoekspan meeding.

Hy het eindelik net in drie wedstryde vir die Kings en vyf vir die Oostelike Provinsie gespeel.

Toe Brent Janse van Rensburg hom dus daarna na die Pumas gelok het, het hy die kans aangegryp.

“As ’n skrumskakel wil jy die hele tyd in daardie wedstryd-situasie wees en dis wat ek by die Pumas gekry het,” sê Ungerer.

Volgens Stefan Ungerer het hy baie van sy selfvertroue as rugbyspeler weer teruggekry deur vir die Pumas te speel. Foto: Gallo Images

Deon Davids, die Kings se breier, het verlede week ietwat verras deur Ungerer sommer dadelik in sy beginspan te kies.

Ungerer het sy afrigter se vertroue regverdig met ’n knap vertoning waarin hy twee drieë gedruk het.

Die Kings het weliswaar met 31-38 verloor, maar daar was versagtende omstandighede.

Die wedstryd is in ontsettende winderige toestande gespeel en die Kings se agttal was weens ’n rits beserings aan hul voorrymanne kwaai op die agtervoet.

Met ’n skrum wat so uitmekaarval, kan nie net van die voorspelers nie, maar ook die skrumskakel, maklik seerkry.

“Jy gaan altyd sukkel as die skrum agteruitgaan. Dis waar Lerries (Ruaan Lerm, die agtsteman) goed gedoen het,” sê Ungerer.

“Hy het voor en gedurende die wedstryd die hele tyd met my gepraat en gesê wat hy in die verskillende situasies gaan doen.”

Met Ungerer daar lyk die diepte onder die Kings se skrumskakels beter.

Veral omdat Sarel Pretorius, wat met ’n voetbesering sukkel, ook oor ’n paar weke eindelik weer kan begin speel.

Die Kings se volgende wedstryd is op Sondag 25 November teen Connacht in die Madibaz-stadion.

Meer oor:  Pumas  |  Stefan Ungerer  |  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.