Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Prestasie wink vir De Haas-familie

Die skrumskakel Ruben de Haas kan ’n sonderlinge stukkie geskiedenis maak as hy Saterdag speelkans kry in die Vrystaat-Cheetahs se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Leeus in Johannesburg.

Ruben de Haas praat met sy pak voorspelers gedurende ’n skrum teen Argentinië op verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

De Haas se pa, Pieter, en sy oupa Gerard het ook vir die Vrystaat gespeel. Sou die jongeling Ellispark wel betree, sal dit die eerste keer nóg wees dat ’n seun, pa en oupa almal vir die Vrystaat speel.

Wat dit selfs meer spesiaal sal maak, is dat Pieter ook 32 jaar gelede sy Vrystaat-buiging teen die Johannesburgers (destyds Transvaal) gemaak het. Ook het De Haas senior die gewese Springbok-heelagter Gysie Pienaar – wat in daardie stadium losskakel toe geskuif het – vervang toe hy uitgetree het.

Sy seun kan nou sy buiging maak nadat Pienaar se seun, Ruan, verlede week teen die Bulle ’n ernstige kniebesering opgedoen het.

Die jong De Haas sal straks op die plaasvervangerbank teen die Leeus wees.

“Ek het gehoor Ruben kan sy verskyning maak en het vanoggend (Dinsdag) gedink dit is eintlik ongelooflik hoe die geskiedenis homself herhaal,” het Pieter gesê.

“Ek het 32 jaar terug my buiging vir die Vrystaat gemaak teen die Leeus in Bloemfontein en ek kry hoendervleis as ek daarin dink.

“As Ruben wel ’n kans kry om op die veld te gaan, is sy buiging ook teen die Leeus soos myne, en nie teen sê maar die Westelike Provinsie of die Haaie nie.”

De Haas senior is ewe ingenome met die Pienaar-verbintenis.

“Nou is Ruan beseer en hy en Ruben is albei skrumskakels, net soos ek en sy pa destyds losskakels was. Ek dink Gysie was seker so 13 of 14 jaar ouer as ek, en Ruan (36) is 14 jaar ouer as Ruben (22).

“Dis crazy hoe die geskiedenis homself herhaal. Ek is spyt my pa lewe nie meer om dit te kon sien nie, want dis die kersie op die koek dat ons die eerste pa, seun en oupa sal wees wat vir die Vrystaat speel. Dis baie spesiaal vir die familie.”

De Haas senior sê sy seun het laat weet hy gaan iets spesiaal doen om die besonderse familiegeskiedenis te vier.

“Die spelers het mos baie keer pleisters of verbande om hul gewrigte. Hy sê hy gaan 1964, die jaar van sy oupa se buiging, op die een verband skryf en 1988, vir my buiging, op die ander.

“Die Vrystaat Rugbyunie het so ’n trotse geskiedenis oor soveel jare. Dis vir ons ’n groot voorreg om deel daarvan te kan wees, al is dit in ’n klein hoedanigheid.”

De Haas, wat Amerika verlede jaar op die Wêreldbeker-toernooi in Japan verteenwoordig het en 17 toetse op sy kerfstok het, kan die tweede Eagles-speler naas Todd Clever word wat Superrugby in Suid-Afrika speel. Clever het in 2009 en 2010 vir die Leeus in die Superreeks gespeel.

Meer oor:  Superrugby Unlocked  |  Leeus  |  Cheetahs  |  Ruben De Haas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.