Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Uniondale ’n seëning, ‘spook’ nie by ‘Japie’
Die Blitsbok Dewald Human besig oefen Vrydag met gevulde waterbottels as gewigte by sy huis in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Die laaste paar jaar moes Dewald Human daarmee vrede daarmee maak dat sy naam nie uitgelees word nie wanneer die Blitsbokke se toergroep vir toernooie aangewys word.

Dit is immers nie maklik as jy meeding met spelskeppers van Cecil Afrika, Justin Geduld en Branco du Preez se kaliber vir ’n plek in die span nie.

Maar op 25-jarige ouderdom het Human, ’n boorling van Uniondale in die Langkloof, nog lank nie moed opgegee om ’n gereelde lid van die nasionale sewesrugbyspan te word nie.

“Dit is nooit lekker om nie te speel nie, en as die geleenthede daar is, dan gryp jy dit aan. Die span vaar op die oomblik goed, dit is hoekom coach (Neil Powell) die span hou soos wat dit is en om kontinuïteit te kry.

Dewald Human is trots daarop dat ’n boorling van Uniondale sy hoogtes in sewesrugby kon bereik. Foto: Gallo Images

“In my posisie is dit baie moeilik, maar ’n mens moet aanhou hard werk. Dan sal jy eendag die vrugte pluk,” sê Human, wat onder sy spanmaats as “Japie” bekend staan.

Hy het by die Parys-toernooi in 2017 sy buiging vir die Blitsbokke gemaak en die span die volgende jaar in Hongkong aangevoer, toe die voorste spelers by die Statebondspele in Australië was.

Sedertdien het hy egter nog net in nege toernooie gespeel, met sy laaste speelkans in 2019 in die Franse hoofstad.

“As ’n mens nie speelkans kry nie, bly jy agter in Suid-Afrika met die jong opkomende talent (by die akademie). Jy probeer maar met hulle te werk en dít hou my positief.

“Ek probeer om nie op die negatiewe te fokus nie. As die span goed vaar, beteken dit die stelsel werk en dit is waaroor alles gaan.

“Ek sal nie sê dat ek nooit negatief is nie, dit is nooit lekker om nie te speel nie. Ek probeer maar positief bly en werk hard aan die dinge wat maak dat ’n mens die span kan haal,” sê Human.

Selfs nou tydens die inperking sweet hy in Stellenbosch om een van sy doelwitte – om by die Olimpiese Spele aan te tree – hopelik te laat realiseer.

“Ons het ’n program by ons kondisioneringsafrigter gekry om tuis te volg. Meestal hardloop ons tussen 06:00 en 09:00 en probeer om te gim om fiks te bly. Dit is min, maar ons werk maar met wat ons het.”

Dewald Human se gewone oefenprogram het verander weens die staat van inperking, maar hy kan darem nou tussen 06:00 en 09:00 buite gaan draf. Foto: Gallo Images

Toe Human nog ’n leerling aan die Hoërskool Outeniqua in George was, het hy daarvan gedroom om ’n tennisspeler te wees. Maar toe die rugbygogga eers byt, was die ovaalbal sy voorland en is hy in sy matriekjaar in die Suid-Afrikaanse Skolespan ingesluit.

Min sou hy toe kon droom dat hy eendag saam met sy rolmodelle, Afrika, Geduld en Du Preez, sou speel en met hulle sou meeding om ’n plek in die Blitsbok-groep.

Wanneer Human motivering kort, soos wanneer sy naam weer nie uitgelees word nie, is dit sy geboortedorpie wat hom laat perspektief behou.

“Dit het vir my baie beteken om uit ’n klein plekkie soos Uniondale te kom. Dit het ’n groot invloed op my loopbaan gehad, om te dink waar ek vandaan kom. Min mense kom uit so ’n plekkie en haal die Blitsbokke se span.

“Dit het my altyd gedryf tot waar ek vandag is en ook wat ek nog wil bereik – om te kan sê ek doen dit vir my mense en die gemeenskap van Uniondale,” vertel Human.

Meer oor:  Blitsbokke  |  Dewald Human  |  Sewerugby  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.