Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Universiteite ‘zoom’ om spelers te werf
Paarl Gimnasium se Marco van Rhyn sit af op ’n lopie tydens ’n kragmeting met Grey-kollege by 2019 se Wildeklawer-toernooi in Kimberley. Foto: Gallo Images

Rugbyafrigters aan universiteite bel die telefoonlyne na skoleafrigters warm om spelers te werf vir aanstaande jaar, aangesien die Covid-19-pandemie die huidige skolerugbyseisoen kortgeknip het.

Hoewel baie universiteite reeds spelers op o.16-vlak identifiseer, stem breiers met wie gesels is saam dat sommige spelers eers in hul matriekjaar die wêreld aan die brand begin speel.

Daarby is dit ook belangrik dat diegene wat vir werwing by universiteite verantwoordelik is, by jeugtoernooie (soos Wildeklawer s’n in Kimberley) met spelers, wat reeds geïdentifiseer en gewerf is, kontak maak. Dít is om te verseker dat ’n speler wel by die spesifieke universiteit aansluit en nie op die nippertjie ’n ander opsie kies nie.

Drikus Hancke, afrigter van die Maties, erken dit is ’n reuse-uitdaging om raak te vat met die werwing van spelers.

“Kabamba (Floors, afrigter van die Young Guns) doen ons werwing en hy het spelers reeds lankal geïdentifiseer. Jy weet egter nie in watter fisieke toestand iemand hier by jou gaan opdaag nie (weens die inperking). Dit is natuurlik nou moeilik vir die ouens, omdat hulle die heeltyd in die huis moet bly.

“Verder is daar onduidelikheid oor wanneer die matriek-eindeksamen geskryf gaan word, so ons weet ook nie wanneer die ouens by ons gaan opdaag dat ons met hulle kan begin werk nie. Ons bel maar rond en kry menings oor spelers en kyk na video’s van spelers in hul graad 11-jaar.

“Dan kry ons ook raad en advies oor spelers by skoleafrigters. Hopelik kom ouens wat ons gemis het in elk geval universiteit toe en dan kan hulle rugby ook speel,” sê Hancke.

Tukkies se afrigter, Nico Luus, gebruik tegnologie om seker te maak hulle kry die regte spelers.

Skillie Bester is verantwoordelik vir die werwing van spelers by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie. Foto: Varsitybeker

“Ek het al ’n paar Zoom-gesprekke met ’n paar spelers gehad, waar ek by hulle hoor wat hulle planne vorentoe is. Dan het ek Dinsdag ’n Skype-vergadering met al die direkteure van rugby by skole in Pretoria, waar ek hulle insette vra oor spelers wat goed vertoon het. Maar ons het darem ook oor ’n lang tyd lyste van spelers saamgestel en ek het ook al ’n klomp video’s deurgewerk,” sê Luus.

By die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein werk dinge heelwat anders as by die groter universiteite. SUT, wie se rugbyspan as die Ixias bekend staan, teiken nie noodwendig spelers wat in die visier van die voorste universiteite is nie.

“Ons maak oor tyd name bymekaar en wil dan by ’n toernooi soos Wildeklawer gaan seker maak van ouens. Onthou, sommige ouens wat dalk in graad 11 goed was, ‘verdwyn’ (in sy matriekjaar),” sê Skillie Bester, wat verantwoordelik is vir die Ixias se werwing.

“Ek het darem ’n goeie netwerk van kontakte en gesels baie met skole se afrigters en maak dan maar staat op hul eerlikheid. Ons kyk ook na video’s, maar dit gee ons nie altyd ’n aanduiding van hoe iemand onder druk verkeer, of hy die roepe doen of sulke goed nie.

“Baie keer is daardie video’s egter net dele van wedstryde of van ’n sekere speler, so jy kry nie altyd die geheelbeeld van iemand nie.

“ ’n Mens moet maar op jou instink staatmaak, maar jy kan ook nie te lank wag (met werwing) nie. Ek verwag hierdie ding (die Covid-19-pandemie) gaan die speelveld gelyk maak. Wanneer die universiteite se aansoeke laat in die jaar sluit, gaan daar dalk baie bekommerde ouers bel omdat hul kinders nog nie reggekom het vir volgende jaar nie. Dan sal ons dalk spelers vir ’n goedkoper prys kan kry.

“Ouens moet na my toe kom omdat hulle ’n geleentheid soek om rugby te speel terwyl hulle studeer, nie omdat hulle R10 000 per maand en ’n voertuig soek nie,” sê Bester.

Meer oor:  Skolerugby  |  Varsitybeker  |  Koronavirus  |  Zoom  |  Skolesport  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.