
Marvin Orie, Springbok-slot van die Leeus, verseker besit in ’n lynstaan in die Superreeks. Foto: Gallo Images
Die Leeus-slot Marvin Orie speel Vrydagaand in Durban in sy 50ste wedstryd in die Superrugbyreeks. Of hoe?
Dit hang oënskynlik alles af van wat die Leeus eindelik hieroor besluit.
Daar is voor die naweek se eerste ronde van die Unlocked-Superreeks verwarring in Suid-Afrikaanse rugby oor hoe spelers se wedstryde en punte in dié kompetisie in die annale aangeteken gaan word.
Orie, wat voorheen tien keer vir die Bulle Superrugby gespeel het voordat hy die Leeus ’n verdere 39 keer in die kompetisie verteenwoordig het, is ’n goeie gevallestudie.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het by navraag gesê hoe die sewe unies, wat in die plaaslike Superreeks speel, hul spelers erkenning gee vir dié wedstryde, is hul besluit.
Sanzaar (die beheerliggaam van die volwaardige Superreeks) se amptelike statistieke sal egter afsonderlik gehou word, wat beteken dat die spelers se verskynings en punte nie erken sal word nie.

Jannie du Plessis, gewese Springbokstut, skrum nou vir die Leeus. Foto: Gallo Images
Dit sou beteken dat die Leeus teoreties wel kan besluit Orie het sy 50-tal bereik, hoewel dit nie amptelik in die rekordboeke opgeteken sal word nie.
Sy spanmaat, die deurwinterde Bok-stut Jannie du Plessis, is op 149 Superwedstryde gestrand.
Du Plessis het voorheen 145 keer vir die Cheetahs en die Haaie in die reeks diens gedoen en vroeër vanjaar vier keer vir die Leeus in die voorry gesak voordat die Covid-19-pandemie toegeslaan het.
Annemie Bester, die Leeus se woordvoerder, het bevestig Orie speel nie in sy 50ste wedstryd nie.
Die Unlocked-kompetisie verskyn wel as ’n amptelike kompetisie op Sanzaar se webtuiste.
Greg Thomas, Sanzaar se woordvoerder, sê Saru het kennis gegee dat die statistieke nie in aanmerking sal kom vir Superrugby se “historiese rekords” nie en dié beheerliggaam val dus daarby in.
Jimmy Stonehouse, hoofafrigter van die Pumas, het Woensdag gesê hy twyfel of dit so beskou sal word dat sy spelers Superrugby gespeel het.
Eintlik hoop ek nie dit het Superrugby-status nie, want dan gaan ek my spelers Superrugby-salarisse moet betaal.
Jimmy Stonehouse
“Ek weet nie, dalk as die Stormers teen die Leeus of die Bulle teen die Haaie speel, maar ek glo nie dit sal die geval wees wanneer die ander spanne (Pumas, Griekwas en die Cheetahs) betrokke is nie.
“Eintlik hoop ek nie dit het Superrugby-status nie, want dan gaan ek my spelers Superrugby-salarisse moet betaal,” skerts Stonehouse.