Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
UP-Tuks en Naka Bulle gaan weer slaags raak

Dieselfde twee teenstanders wat onlangs in die Carltonliga-eindstryd slaags geraak het, kruis op 21 Augustus weer swaarde wanneer die tussen-provinsiale Superliga sy 2018-kampioen op Loftus Versfeld kroon.

UP-Tuks en Naka Bulle het dié eindronde gehaal nadat hulle die afgelope naweek met onderskeidelik Quins-Bobbies (67-17) en Impala (27-19) in die halfeindstryd afgereken het.

Bloot uit die eindtellings kan ’n mens aflei dat Naka Bulle soveel harder vir hul oorwinning in Rustenburg moes werk. Naka was rustyd nog met 17-19 agter, maar het die stang in die tweede helfte vasgebyt en die enigste punte in dié 40 minute aangeteken. Dit lei geen twyfel nie dat die Mooters met dié puik vertoning ’n groot karaktertoets geslaag het wat vir UP-Tuks as waarskuwing moet dien.

WJ Strydom, heelagter van UP-Tuks, in aksie in die Superliga-halfeindronde teen Quins-Bobbies.Foto: Johanna de Vos

UP-Tuks het tien drieë teenoor drie in sy groot oorwinning gedruk, maar dit ten spyt glo die afrigtingspan dat daar met die oog op die herontmoeting met Naka besliste stof tot nadenke is. UP-Tuks het vinnig ’n voorsprong van 21 opgebou, maar toe op hul louere gaan rus en QBR toegelaat om self met drie drieë te antwoord waarvan een met ’n beweging op sy eie doellyn begin het. In dié tyd was UP-Tuks se eerste duikslae nie goed genoeg nie en het die span platvoet voorgekom teen teenstanders wat gebroke spel gebruik het om verdediging in aanval te omskep.

UP-Tuks het goed reggeruk en in die tweede helfte net te veel skietgoed vir QBR gehad. Die uitslag was selde in die gedrang, maar desondanks het QBR nie boedel oorgegee nie en verdien hul hardnekkige veggees vermelding. Op hul beurt het UP-Tuks groot indruk gemaak met die ondersteunende spel tussen voor- en agterspelers.

In die Presidentsliga 1A het die Tuine-Grizzlies verras met hul naelbytsege oor Tuks-Fezelas in die halfeindronde. Tuine het die wenpunte in die doodsnikke aangeteken en met 30-29 gewen. As dié oorwinning een rugbywaarheid onderstreep het, is dit dat groot name nie noodwendig ’n waarborg vir sukses is nie en honger uiteindelik die beste kok is.

Grizzlies sal moeilik in die eindstryd geklop word. Dit is goed vir rugby dat so ’n geesdriftige gemeenskapsklub die vrugte van ure se harde werk teen ’n baie sterk Fezelas-span kon pluk.

Die ander halfeindstryd het 88 punte opgelewer en in ’n sege met 45-43 vir Impala se naasbestes oor hul Naka Bulle-eweknieë geëindig.

In die stryd om die louere in die Presidentsliga 1B het Tuks-Pumas en Naka tot die eindronde deurgedring ná oorwinnings teen onderskeidelik Quins-Bobbies (24-15) en (Tuine (18-10).

Superliga-puntemakers:

  • UP-Tuks 67 (33), QBR 17 (17)

TUKS: Drieë: Raegan Oranje (3), WJ Strydom, Lourens Pretorius, Johan Grobler, Stefan Coetzee, Armandt Jordaan, Theuns Reynolds en Hanco Venter.

Doelskoppe: Steven Moir (5) en Xander Kruger (2).

Strafdoel: Steven Moir.

  • QBR: Drieë: Juan Nel, Jasper Genis en Attie Joubert.

Doelskop: Juan Nel.

  • Naka Bulle 27 (17), Impala 19 (19)

NAKA BULLE: Drieë: Sylvester Booysen, Dylan van der Walt, Chris Hollis en Jerome Bastick.

Doelskoppe: Ruaan du Preez (2). Strafdoel: Du Preez.

IMPALA: Drieë: Dumesani Matyeshana, Maverick van der Merwe en Justin Wheeler.

Doelskoppe: Trevor Visser (2).

Meer oor:  Up-Tuks  |  Naka Bulle  |  Superliga  |  Loftus Versfeld  |  Klubrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.