Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vaar Pollard so vrot soos ons dink?
Hoewel sy stelskopwerk ver benede peil is, is Handré Pollard ’n effektiewe baldraer en verdediger vir die Bokke.Foto: Getty Images

Wat maak ’n losskakel sy sout werd?

Dit is een van die interessante vrae wat opduik ná die afgelope naweek se toetse waarin die kontrasterende vertonings tussen Handré Pollard vir die Bokke en Beauden Barrett vir die All Blacks byvoorbeeld opvallend was.

Is die akkurate uitoefening van kernpligte die vernaamste kenmerk van ’n losskakel van wêreldgehalte of is dit ’n sekere flair wat hom bo die res laat uitstaan? Of dalk eerder die optimale gebruik van sekere sterk punte om ander swak plekke te verbloem?

Die antwoord lê dalk iewers tussenin; ’n kombinasie van bogenoemde deugde, saam met die vermoë om die regte besluit op die regte plek op die veld maak.

As ’n mens na die statistieke van vanjaar se Rugbykampioenskap kyk, is dit beslis die geval.

Barrett, Pollard, Bernard Foley (Australië) en Nicolas Sanchez (Argentinië) het tot dusver elke minuut van hul onderskeie spanne se wedstryde gespeel en die syfers bied ’n interessante blik op elkeen se sukses, al dan nie.

Nicolas Sanchez bied baie amper die volle pakket as losskakel. Foto: Getty Images

1. Skopwerk:

Pollard het wat stelskopwerk betref verreweg die swakste slaagsyfer in die reeks. Sy sukseskoers van 36% steek sleg af teen Sanchez (87%), Foley (75%) en selfs Barrett (69%), wat self nie te akkuraat korrel nie.

Wat skoppe uit die hand betref, is daar nie veel tussen die viermanskap te kies nie, met elkeen wat die bal gemiddeld ’n raps meer as 30 m skop. Dis wel opmerklik dat al die losskakels die bal meer as Pollard skop. Barrett het byvoorbeeld die bal al 21 keer takties geskop en Pollard slegs nege keer. Dit kan egter eerder aan taktiese redes toegeskryf word.

Die haastige Beauden Barrett het denke verander oor hoe ’n losskakel behoort te speel. Foto: Getty Images

2. Verspreiding en bresse slaan:

Barrett se vyf pragdrieë in twee toetse oorskadu beslis die ander se bydraes, met sy aangeewerk wat ewe skerp as sy lopies met die bal onder die arm is. Hy versprei die bal teen ’n sukseskoers van 88%. Foley versprei teen 95%, Sanchez teen 88% en Pollard teen 85%.

Pollard kon egter die meeste keer die bal uit kontak smokkel.

Interessant genoeg maak Barrett die meeste hanteerfoute. Hy het al tien keer die bal aangeslaan teenoor Pollard se enkele hanteerfout. Sanchez (4) en Foley (1) het ook die bal aansienlik minder laat val.

Bernard Foley was tot dusver bestendig, maar is deur Beauden Barrett oorskadu. Foto: Getty Images

3. Verdediging:

Dís die afdeling waarin Pollard sy mededingers troef. Van die vier nr. 10’s het hy tot dusver die meeste suksesvolle duikslae uitgevoer (87%).

Barrett (85%) is ’n kortkoppie agter Pollard met Foley (82%) in die derde plek. Keerwerk is gewis nie Sanchez (61%) se sterk punt nie.

Dit is ook interessant om te sien dat Barrett (6) die meeste keer omgekeerde besit afgestaan het. Sanchez het dit self drie keer gedoen, met Pollard en Foley wat die fout nog nie een keer begaan het nie.

Aan die hand van dié statistieke is dit duidelik dat elke speler sy sterk en swak punte het, maar almal byna ewe suksesvol hul kernpligte uitvoer.

Pollard speel en skop sonder selfvertroue, maar vaar dalk beter as waarvoor hy krediet kry.

Barrett druk die meeste drieë en word die meeste lof toegeswaai, maar maak die meeste foute. Sy skopvoet kan ook kwesbaar wees, maar op die aanval herskryf hy tot ’n groot mate die moderne losskakel se handleiding.

Pollard speel en skop sonder selfvertroue, maar vaar dalk beter as waarvoor hy krediet kry.

Sanchez doen wat van ’n klassieke losskakel verwag word, maar is kwesbaar op die verdediging. Foley het op sy beurt tot dusver gesukkel om sy stempel af te druk agter ’n pak voorspelers wat in trurat was teen die All Blacks.

Dit sou interessant gewees het om te sien hoe Pollard, Foley en Sanchez in ’n span sou gevaar het wat so oorheersend soos die All Blacks is.

Meer oor:  Beauden Barrett  |  Bernard Foley  |  Handre Pollard  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Losskakel  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.