Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vaarwel Kaapstad-stadion
Die Kaapstad-stadion word van 1 Januarie die DHL-stadion. Foto: Getty Images

DHL, hoofborg van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), het die naamregte van die Kaapstad-stadion verkry, het Ian Neilson, adjunkburgemeester van die Kaapstad-metro, Vrydag bevestig.

“Daar is vanoggend op ’n raadsvergadering goedkeuring verleen vir ’n ooreenkoms tussen die stadion en DHL. In ’n neutedop beteken dit dat van 1 Januarie dit vir vier jaar as die DHL-stadion sal bekend staan,” het Neilson aan Netwerk24 gesê.

“DHL sal R11 miljoen per jaar vir die naamregte betaal. Die kenteken buite die stadion, ‘Cape Town Stadium’ sal voortaan ook ‘DHL’ wees.”

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 01: Pieter-Step
Pieter-Steph du Toit, die Stormers se Springbok-ster, vertoon die borg se naam op sy trui. Foto: Gallo Images

DHL se borgskap van die Westelike Provinsie verstryk aan die einde van dié jaar en dit gaan interessant wees om te sien of sy gretigheid om dit te hernu deur die verkryging van naamregte vir die stadion geraak gaan word.

DHL se naam verskyn voor op die Stormers- en WP-spanne se truie, terwyl hy ook die naamregte vir die Nuweland-stadion het.

Selfs al keer DHL nou die Kaapse unie die rug toe as hoofborg, sal hy steeds sigbaarheid by alle byeenkomste en advertensies binne die Kaapstad-stadion hê wanneer die Stormers speel.

Die bedrag van DHL se huidige borgskap van die WP is onbekend, maar volgens bronne beloop dit in die omgewing van R28 miljoen per jaar.

Om die naamregte van die Kaapstad-stadion te kry – met die Britse en Ierse Leeus wat boonop aanstaande jaar daar ’n toets teen die Springbokke en wedstryd teen die Stormers gaan speel – bied die wêreldwye koerier-reus sigbaarheid teen ’n aansienlik goedkoper prys.

Hennie Heymans, besturende direkteur van DHL se sub-Sahara Afrika-streek, het vroeër vandeesmaand as ’n direkteur uit die WPRU se sakevleuel bedank.

Hy was veral bekommerd dat die WPRU sloer in sy onderhandelinge met die Amerikaanse belegger MVM Holdings vir ’n beherende belang in die sakevleuel, maar het in dieselfde asem gesê dat die borgskap as ’n afsonderlike kwessie beskou word en dat DHL steeds waarde daaruit put en in ’n hernuwing belangstel.

Heymans wou nie Vrydag sê of die stadion-borgskap ’n invloed op DHL se besluit oor ’n moontlike hernuwing sal hê nie.

Die chaos in die WPRU se raadsale boesem egter op kommersiële vlak geen vertroue by borge – tans of moontlik in die toekoms – in nie.

Die chaos in die WPRU se raadsale boesem egter op kommersiële vlak geen vertroue by borge – tans of moontlik in die toekoms – in nie.

Sedert Junie is ses direkteure van die sakevleuel al weg. Vier het bedank en nóg twee se termyne is ter wille van transformasie nie hernu nie.

Die vier direkteure wat uit vrye wil bedank het, is Heymans, Suzanne Stevens van die borg BrightRock, Raymond van Niekerk en Kevin Kiewitz.

Johan van der Merwe en André van der Veen is dié wat om transformasie-redes die deur gewys is.

Van der Veen het MVM as moontlike belegger gevind, maar onderhandelinge sloer met die WPRU, wat koue voete gekry het nadat hy vroeër die kernpunte van ’n ooreenkoms met die Amerikaners onderteken het.

Marco V. Masotti, ’n oud-Suid-Afrikaner aan die stuur van ’n Amerikaanse konsortium, wat ’n beherende belang in die WP Rugbyunie se sakevleuel wil bekom. Foto: Verskaf

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU se sakevleuel, het onlangs op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê dat hy die man aan die voorpunt van MVM Holdings, Marco V. Masotti, graag in November wil ontmoet.

Masotti sal egter weens Covid-19-beperkings op besoekers uit Amerika, nie voet in Suid-Afrika kan sit sonder spesiale vergunning nie.

Hy het aan Netwerk24 bevestig dat hy stappe daarvoor probeer doen, maar wou nie oor onderhandelinge met die WPRU kommentaar lewer nie.

Die hoofrede wat Heymans vir sy bedanking aangevoer het, was juis dat die WPRU nie ’n moontlike transaksie met MVM met die nodige dringendheid benader het nie.

• Intussen glimlag die Kaapstad-metro breed oor die vordering wat hy maak met die kommersialisering van die Kaapstad-stadion.

Die metro gaan R11 miljoen per jaar bespaar omdat dit ons subsidie vir die stadion met dié bedrag verminder.
Ian Neilson

“Die metro gaan R11 miljoen per jaar bespaar omdat dit ons subsidie vir die stadion met dié bedrag verminder. Hierdie is deel van ’n uitgebreide kommersialisering waarmee die stadion-direksie besig is,” sê Neilson.

“Dinge lyk nou regtig belowend. Konstruksie is aan die gang vir die bou van bykomende losies vir die WP en dit behoort met afskop van die volgende seisoen voltooi te wees.”

Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Ian Neilson  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Wp  |  Dhl  |  Stormers  |  Borgskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.