Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vakbond red dalk WP Rugbyunie

Nehawu Investment Holdings (NIH), die handelsafdeling van die vakbond Nehawu, staan gereed om vir die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) ’n toevlugsoord te wees as die veelbesproke eiendomstransaksies met Flyt Property Investment deur die mat val.

NIH het vroeër vanjaar, op die vooraand van die bekragtiging van WPRU se transaksie met Flyt, ’n voorstel vir ’n ontwikkelingstransaksie gemaak wat “risikovry” was.

Phillip Dexter, uitvoerende hoof van Nehawu Investment Holdings. Foto: Argief

Nou dat die Flyt-transaksies in die weegskaal is, is daar aan Netwerk24 bevestig dat NIH steeds bereid sal wees om sy beursie te skud. Hy is glo ook die vennoot wat die WPRU in gedagte gehad het toe daar skynbaar besluit is om bande met Flyt te verbreek.

“Ons stel steeds belang om ’n vennootskap met die WP aan te gaan op enige manier wat die rugbygemeenskap en spel kan help,” het Phillip Dexter, uitvoerende hoof van NIH, aan Netwerk24 gesê.

Die WPRU het egter ’n bakleiery op hande om hom uit die transaksie met Flyt los te wikkel. Flyt beskou die ooreenkomste vir ontwikkelings by Nuweland en Brookside as bindend en het vandeesweek by monde van Zane de Decker, sy besturende direkteur, gesê dat die WPRU aanspreeklik gehou gaan word vir enige skade wat uit “kontrakbreuk” voortspruit.

Zelt Marais, president van die WPRU, het vroeër vandeesweek gesê dat dié kwessie op litigasie kan uitloop en hy daarom nie namens die unie kan kommentaar lewer nie.

Die WPRU het vroeër vanjaar onder baie kritiek deurgeloop dat daar nie ’n tenderproses was om op ’n eiendomsontwikkelingsvennoot te besluit nie.

Dexter wou nie verdere kommentaar lewer nie.

Dis egter onwaarskynlik dat die bepalings swakker sal wees (as dié vervat in die kontrak met Flyt).

Die aanvanklike voorstel het behels dat Nehawu ’n ontwikkelingsmaatskappy sou stig waarin hy aanvanklik ’n aandeel van 79,6% en die WPRU 20,4% sou kry. Dit sou al die WPRU se eiendomme insluit.

Die WPRU sou egter nooit, vir die lewensduur van die ontwikkelingsmaatskappy, enige waarborge of geld hoef in te betaal nie, ’n kunsmatige veld van internasionale standaard ter waarde van R12 miljoen sou by Brookside gelê word, die WPRU sou ’n lening van R115 miljoen kry en trusts sou geskep word ten bate van amateurrugby en die ontwikkeling van jong spelers.

Daar sou selfs gekyk word om velde te bou en op te gradeer vir klubspanne. Mettertyd sou die aandeelhouding 51% vir die WPRU en 49% vir Nehawu wees.

Met dié dat die lening uit die ontwikkelingsmaatskappy terugbetaal sou word, sou die skuld nie eers regstreeks by die WPRU verhaal word nie.

Daardie voorstel is egter op 7 Julie vanjaar gedoen – op die vooraand van die vergadering van die WPRU se hoofraad waar die Flyt-transaksie finaal bekragtig is.

Die haas waarmee die Flyt-transaksie beklink is, het baie vrae laat ontstaan. Die WPRU was aanvanklik in ’n wedloop teen tyd gewikkel om die R58 miljoen wat hy aan Remgro geskuld het teen die spertyd van 30 Junie af te betaal. Johann Rupert, voorsitter van Remgro, het egter toe aan Netwerk24 gesê dat die WPRU ’n maand se uitstel aangebied is sodat daar ’n noulettendheidsondersoek gedoen kan word.

Die WPRU het egter voortgebeur en ’n blitsige transaksie met Flyt beklink nadat hy aan die einde van Mei vir Investec die rug toegekeer het.

Dream World Investments 401, ’n filiaal van Flyt, het reeds R112 miljoen aan die WPRU voorgeskiet. Verbande is teen al die WPRU se eiendomme daarvoor geregistreer.

• Intussen is werknemers van die WP in kennis gestel dat hulle nie bonusse in Desember of salarisverhogings vir 2021 gaan kry nie.

Die rede wat aan hulle gegee is, is die finansiële druk wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.