Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vakbond slyp messe vir WP-baas

Die vakbond Sport Employees Unite (SEU) het gedreig om ’n klag van ’n oortreding van die Maatskappyewet teen die WP Rugbyunie (WPRU) se president, Zelt Marais, in te dien ná die aanstelling van ’n “persoonlike assistent” by die rugbyunie.

Rapport het ’n brief onder oë gehad waarin SEU die kwessie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Dit volg nadat Marais sonder die wete van die WPRU se sakevleuel ’n oud-klubamptenaar, Ruben Malchelm, as sy persoonlike assistent aangestel het.

Zelt MaraisFoto: GALLO

Dit is ondanks ’n algemene verbod op aanstellings by sowel die WPRU as sy sakevleuel –weens die unie se geldnood.

Die pos is ook nie geadverteer nie en SEU het toegetree nadat sy lede – werknemers van die unie se amateurarm en sake­vleuel – daaroor gekla het.

Volgens Rapport se inligting het SEU nou gedreig om ’n klag van nalatige, onverantwoordelike en roekelose bestuur by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom in te dien.

Marais sit as president van WPRU ook in die direksie van die sakevleuel en is daarom onderhewig aan die Maatskappyewet.

Marais poog sedert sy verkiesing as president om die sakevleuel se magte ten gunste van die unie se amateurarm in te perk.

Daardie kwessie kan straks Vrydag op die spits gedryf word op ’n raadsvergadering.

Marais en sy uitvoerende raad glo die mag sit by hulle om besluite oor spelers, afrigters en die dag-tot-dag-bedrywighede van WP Rugby te maak, maar die sakevleuel se direksie is van die teenoorgestelde mening.

SEU het toegetree nadat sy lede gekla het.

Die saak tussen SEU en die WPRU word op 7 November in Kaapstad aangehoor en die uitkoms daarvan sal bepaal of daar verdere optrede teen Marais gaan wees.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van SEU, het Marais oor sy “swak korporatiewe bestuur” gekap en Vrydag aan Die Burger gesê Marais kan “uit sy pos onthef word” indien daar ’n bevinding is dat hy “onvanpas opgetree het”.

Aan Rapport het Heymans bevestig hulle oorweeg dit om ’n verdere klag teen Marais in te dien.

“Die werknemers van die WPRU voel baie sterk dat die beleidsdokumente, wat deel is van hul diensvoorwaardes, deur die unie nagekom moet word, aangesien daar van die werknemers verwag word om dit na te kom,” het Heymans gesê.

“As verkose amptenare die beleidsdokumente misken, is dit ’n ernstige oortreding van goeie korporatiewe bestuur en dan moet dit aandag kry.”

Marais het nie op Rapport se navrae geantwoord nie, maar het vir Die Burger gesê die saak is sub judice.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.