Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Valke: ‘Hulle moes geweet het’
Divan Nel stel die bal gedurende ’n wedstryd vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsitybeker-reeks in 2017. Foto: Gallo Images

Divan Nel was platgeslaan toe sy werkgewer, die Valke-rugbymaatskappy (VRM), hom en sy kollegas ’n dag voor die einde van die maand inlig dat hulle nie hul salaris vir Julie gaan ontvang nie.

Die 26-jarige Nel, ’n veelsydige agterspeler wat losskakel of heelagter kan speel, praat openlik oor die skok en teleurstelling wat hy ervaar ná verlede week se hoogdrama by die unie aan die Oos-Rand.

Kort nadat dit aan die lig gekom het dat werknemers nog nie hul salaris ontvang het nie, is aangekondig dat die VRM gelikwideer word. Vir Nel, wat hom laat in 2019 by die Valke aangesluit het, en sy spanmaats is dit waarskynlik die einde van die pad.

Die Valke, wat in die Curriebeker se Eerste Liga meeding, is vroeër by die internasionale Rapid Rugby-reeks (die geesteskind van die Wes-Australiese miljardêr Andrew Forrest) ingesluit, en daar is groot drome gedroom. Toe kom die Covid-19-pandemie en verpletter alles.

“Jy is basies platgeslaan, jy weet nie of jy kom of gaan of wat jy moet doen nie. Niemand berei jou daarop voor nie, die dag voordat my debietorders vir my kar, medies en daai goed afgaan, moet ek hoor ons kry nie salaris nie,” sê Nel.

“Ons is in skok, die ouens wonder hoe hulle hul rekenings gaan betaal en wat in die volgende maande gaan gebeur. Vir my beteken dit dat ek my spaargeld moet gebruik. Ek is nog oukei vir die maand, maar wat van vorentoe?

Hulle moes mos al aan die begin of middel van die maand geweet het dat hulle nie geld gaan hê om ons te betaal nie.
Divan Nel

“Covid-19 het baie spanning veroorsaak, maar ek dink hulle (die VRM) kon dit beter hanteer het. Dit is juis my probleem, hulle moes mos al aan die begin of middel van die maand geweet het dat hulle nie geld gaan hê om ons te betaal nie.”

Nel het ’n paar jaar gelede vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsitybeker-reeks uitgeblink – wat hom op Boland se radar geplaas het, voordat hy in 2018 en 2019 vir SWD uitgedraf het.

Hy vertel dat die Valke se doelwitte vir vanjaar was om in die oorsese reeks goed te vaar en dan die Eerste Liga te wen.

Dit sou die span van die Oos-Rand vir ’n promosie-relegasie-wedstryd laat kwalifiseer teen die span wat onderaan die Curriebeker-reeks se puntelys geëindig het.

En, vertel hy, daar was ’n vertroue by die span van die Oos-Rand dat hul drome kan waar word. Maar toe word die Rapid Rugby-reeks gekanselleer en die Eerste Liga duik ook in die hek. En drome word nagmerries.

Die eertydse Oos-Transvaal, waaruit die Valke onder meer ontstaan het, het ’n trotse geskiedenis, wat insluit dat hy in 1972 in die eindstryd van die Curriebeker-reeks gespeel het. Transvaal was daardie dag met 25-19 baas in Springs.

Meer oor:  Oos-Rand  |  Skok  |  Salarisse  |  Spelers  |  Likwidasie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.