Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Van messelaar tot rugbygeneraal

Van ’n leerling-klipmesselaar, wat in ’n yskoue skuur in Stirling gewerk het, tot ’n gevierde losskakel, wat die rugbyvelde in Frankryk aan die brand speel.

Dít is die sprokiesagtige verhaal van die Skot Finn Russell, wat een van sy land se sleutelspelers in die komende Wêreldbeker-toernooi in Japan gaan wees.

Sedert Russell in 2014 sy eerste voltydse beroepskontrak met die Glasgow Warriors gesluit het, het hy hom gevestig as een van die beste nr. 10’s wêreldwyd. Sy talent het Franse klubs ook gaande gehad en Racing 92 het hom toe Parys toe gelok, waar hy nou een van die bes besoldigde spelers ter wêreld is.

Finn Russell duik sierlik oor die doellyn in Skotland se merkwaardige terugvegpoging teen Engeland vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Terwyl sommige Skotse kenners bang was dat ’n skuif na Frankryk sy toetsloopbaan nadelig sou raak, met Racing wat onder geen verpligting is om Russell se werklading voor toetse vir Skotland te verminder nie, het die teenoorgestelde gebeur – sy spel het bly ontwikkel.

En dis verstaanbaar waarom. In Frankryk, waar daar ’n magdom elite-spelers en supersterre van regoor die wêreld in die Top14-liga speel, word hy weekliks uitgedaag.

As ek ooit ’n slegte dag op die oefenveld het, herinner ek myself net weer hoe sleg dit was om in ’n koue skuur te werk.

Van die veld af het hy ook as ’n mens gegroei. In Parys het hy die leefstyl omhels, Frans leer praat en sy horisonne verbreed.

“Ek word hier aan baie uitdagings blootgestel en is buite my gemaksone,” het Russell vroeër vanjaar in ’n onderhoud met The Times in Brittanje gesê.

“Ek word ’n beter speler en my ervaringe van die veld af is goed vir my as mens.”

Die rugbysukses en Paryse leefstyl is egter wêrelde verwyder van die drie jaar wat hy ná skool as klipmesselaar opgelei is.

Hy het toe sy dae deurgebring deur rame vir deure, vensterbanke en mure te bou.

“Op reënerige dae was dit maar ’n ellendige storie,” het Finn oor sy vorige nering gesê.

“As ek ooit ’n slegte dag op die oefenveld het, herinner ek myself net weer hoe sleg dit was om in ’n koue skuur te werk.”

Sedert Russell Stirling in Skotland vir die Sacré-Coeur in Parys verruil het, het sy spel aansienlik verbeter.

Waar hy nog altyd ’n vindingryke speler met goeie visie was, is rotsvaste verdediging nou ook deel van sy arsenaal. Hy het ook geleer om ’n beter balans tussen aanvallende en ’n meer konserwatiewe benadering in sy spel te vind.

Nie dat dít sy geniale instinkte getemper het nie. Sy vertoning in ’n Sesnasies-toets teen Engeland vanjaar was soos een lang hoogtepunte-pakket.

Met Russell aan die spits, het Skotland ’n agterstand van 0-31 uitgewis om met 38-38 gelykop te speel op Twickenham.

In ’n onlangse WB-opwarmingswedstryd teen Georgië, het sy vernuftige aangeë weer aandag getrek, met ’n druk-aangee terwyl hy op sy knieë was, om ’n drie vir Matt Fagerson moontik te maak, die keur daarvan.

Hy het uiteindelik ’n rol in vier van Skotland se vyf drieë in ’n oorwinning met 44-10 gespeel.

Skotland sal hoop dat dié oud-klipmesselaar in Japan ook boustene vir ’n suksesvolle veldtog lê. – Reuters

Meer oor:  Racing 92  |  Skotland  |  Finn Russell  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.