Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van...
Van 2de span het Dok hom Bok gemaak

Albert Heenop gesels met Piet Greyling

Greyling die plunderaar.

Dis hoe die legendariese Wallieser Gareth Edwards die Springbok-flank Piet Greyling beskryf.

“Greyling was die stille stroper; ’n man wat ’n opponent kon vasvat, draai en stroop van die bal . . . Ek beskou Greyling as een van die grotes van wêreldrugby, hoofsaaklik weens die ontsag wat hy afgedwing het . . .”

Piet Greyling drie jaar gelede tydens ’n Springbok-funksie Foto: Carl Fourie/Gallo

Greyling, wat in 25 toetse (1967-’72) vir die Bokke gespeel het, is deesdae die rustigheid self ná sy aftrede in Pretoria.

Hy word eersdaags 77, maar dié voormalige Transvaal-kaptein is fisiek steeds in ’n hoë rat.

“Ek doen weekliks Pilates-oefeninge. Gholf is nou een van my groot passies en ek speel van ’n 12-voorgee,” vertel hy.

“Ek het wel ’n knievervanging gehad. Tydens ’n Ou Krok-wedstryd in 1973 het ek my knie so erg ontwrig dat daar gevrees was dat my been afgesit sou moes word, maar ná ’n klomp operasies het ek darem die been behou – hoewel ek nooit weer kon hardloop nie.”

Piet en Judith is 54 jaar lank al getroud en het twee kinders, Johan (52), ’n finansiële prokureur in Centurion, en Linda (50), wat ’n oudhede-besigheid vanuit haar huis in Parktown, Johannesburg, bedryf.

“Ons het ook vyf kleinkinders, van wie vier al op universiteit is,” vertel hy.

“Familie is alles.”

Piet Greyling (regs) en sy losvoorspeler-maat Jan Ellis gooi wal teen die Franse op Kingspark. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Greyling het tien jaar gelede uitgetree as besturende direkteur van Industrial Commodities Holdings, wat ’n verskeidenheid kunsmisprodukte en rou kunsmis-materiaal, asook graan, aan die res van Afrika en Midde-Ooste verskaf.

“Ek het in 1972 vir Louis Luyt se Triomf as uitvoerbestuurder begin werk,” onthou Greyling.

“Toe, in 1978, het ek, Albie de Waal – saam met wie ek my Springbok-debuut in 1967 gemaak het – en Fanie Steyn ons eie maatskappy gestig. Ons het met niks kontant begin nie, ’n bietjie geleen en ICH uiteindelik só op die been gekry.

“Die maatskappy het verlede jaar sy 40ste bestaansjaar gevier en is een van die grootste verskaffers van rou materiale vir kunsmis.”

Greyling is op 16 Mei 1942 op Zastron gebore, maar sou eers sowat 15 jaar later die eerste keer met ’n rugbybal te doen kry.

“Ons het Rhodesië toe verhuis toe ek ses was,” vertel hy. “En daar was ek in Engelse skole.

“Ná my tweede jaar op hoërskool, het my pa besluit dat ek heeltemal verengels, en is ek na Sentraal in Bloemfontein gestuur.

“Daar aangekom, het ek die bynaam ‘Hongkong’ gekry omdat ek nie mooi Afrikaans kon praat nie, en toe hulle my vra watter posisie ek speel, was my antwoord: ‘centre forward’ – ek het in Rhodesië net sokker gespeel!

“Hulle het my toe maar op vleuel ingespan, in st. 9 het ek tweede span gespeel en in matriek die Vrystaat-skolespan gehaal. ’n Hoogtepunt in matriek was toe Sentraal vir Grey-kollege ’n hengse pak gegee het!”

Sy verskyning op die Bok-toneel is effe van ’n sprokie.

Hannes Marais, Thys Lourens, Dawie Snyman, John Williams, Piet Greyling, Joggie Voljoen, Frik du Preez, Piet Visagie, Martiens le Roux in Johannesburg, South Africa Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

“Ons het op ’n plaas gebly, 80 myl van Salisbury af, en ek het vir ’n tweedeliga-klub met net 17 spelers gespeel,” onthou hy.

“So, ek kon nie mooi verstaan hoe ek na die Springbok-proewe genooi is nie.

“Later het dit aan die lig gekom dat brig. Harry Hawkins, Rhodesië se diplomatieke verteenwoordiger in Suid-Afrika, dr. Danie Craven vertel het van hierdie ‘chap’ wat nogal kan rugby speel en dat Dok hom ’n kans moet gee . . .

Sy toetsdebuut in 1967 teen Frankryk in Durban was een om van te droom – ’n wen en twee drieë.

“My pa het afgevlieg vir die toets, maar hy het nie veel van rugby geweet nie en het nie ’n woord gesê daar waar hy op die paviljoen gesit het nie. Maar toe ek my tweede drie druk, het hy van hom laat hoor: ‘Dis my seun daai!’

“Dis ’n wonderlike flippen ding om twee drieë te druk, maar ek was maar op die regte plek op die regte tyd; ander het die werk vooraf gedoen.

“En, dis waaroor rugby gaan, kombinasies . . .”

So ’n kombinasie was Greyling met wyle Jan Ellis en Tom Bedford – een van die beste nog in Bok-rugby.

“Ons het mekaar verstaan.

“Jan was ’n ongelooflike flank. Maar, hy het nooit reguit gehardloop nie; dit was links, regs, altyd bal in een hand.

“Ek het altyd agter hom probeer bly, maar dit was moeilik want Jan het vrek vinnig gehol.

“Tommy Bedford, weer, was ’n argitek, so hy kon lyne trek, en lyne hardloop. Hy’t presies geweet waarnatoe om te hol . . .

“Ek en Tommy braai nog elke slag as ek Engeland toe gaan.”

Die reeks het ook ’n aantal omstrede voorvalle opgelewer, soos toe Syd Nomis op Nuweland drie tande verloor het in ’n botsing met Fergie McCormick se elmboog.

“Syd se vrou, Ann, het sy tande by die lynregter gaan haal en daarmee by die All Blacks-kleedkamerdeur vir McCormick gewag, maar hy het nooit uitgekom nie,” onthou Greyling.

In die daaropvolgende toets in Port Elizabeth het Piet Visagie ’n hoë bal op McCormick geloods en is die All Black-heelagter te pletter geloop – en huis toe daarna.

Vir Frik du Preez en Mof Myburg beskou hy as twee van die uitstaande karakters van sy speel-era.

“Frik was meer as net ’n uitstekende speler. Hoewel hy oor ’n ongelooflike humorsin beskik, het Frik nie net grappe vertel nie; hy het pragtige staaltjies, gewoonlik om ’n kampvuur, vertel.

“Ek het agter Mof gedruk in die skrum, en voor ons die eerste keer sak sou hy altyd sê: ‘Pieta, jy moet druk!’ Gewoonlik as ons daarna opstaan, sou hy sê: ‘Hierdie mannetjie is orraait, ek kan hom hanteer; speel maar jou eie game.

“Daai was ander tye; ons het boggerol verdien, ons het vir die liefde van die spel gespeel en almal het pêlle geword, want almal was arm.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.