Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Van Rhyn wil Bok-yster om nr. 7-trui druk

Pieter-Steph du Toit sal ’n seker keuse in die Stormers se beginspan wees wanneer hy sy fiksheid herwin, maar Ernst van Rhyn hoop hy kan tog “gesonde kompetisie” in die nr.7-trui bied wanneer hul afrigter, John Dobson, in die komende maande daardie keuse moet maak.

Ernst van Rhyn in aksie vir die Stormers in Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Leeus op Nuweland.Foto: Gallo Imgaes

“Dis ’n groot voorreg om die trui te dra en ek probeer alles van my kant af om die span te verbeter, maar ook om seker te maak dat ek gesonde kompetisie bied. Al is dit net in die groter groep wanneer Pieter-Steph terugkeer. Ek wil beslis gesonde kompetisie bied en dit nie maklik maak nie,” sê Van Rhyn.

Selfs al klou hy nie vas aan die nr.7-trui met Du Toit se terugkeer nie, is elke kans wat Van Rhyn in die beginspan kry ’n groot geleentheid.

Die verwagting is dat Du Toit ná volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika sy rugby oorsee gaan speel, waarskynlik in Frankryk. Sy naam word baie sterk aan Montpellier gekoppel.

Van Rhyn (23) sal dan na vore moet tree as ’n senior speler om ’n nuwe generasie te lei. Tot dan wend hy elke oomblik saam met Du Toit tot sy voordeel aan.

“Dis ’n groot voorreg om eerstens net in dieselfde unie en in sy geselskap te wees. Hy is immers Wêreldrugby se Speler van die Jaar,” sê Van Rhyn.

“Hy was toevallig ook ’n slot-flank en het uiteindelik op nr.7-flank ingeburger geraak. Die interaksies met hom is ’n voorreg, nie net vir my nie maar al die jong ouens.”

Van Rhyn, wat soos Du Toit ook slot kan speel, is ’n minder skouspelagtige speler as Du Toit, maar word hoog deur sy breier, John Dobson, aangeslaan vir sy leierskap en voorliefde vir harde werk.

Trouens, sy bereidwilligheid om ’n skof en ’n half in te sit, is ’n eienskap wat hy met Du Toit deel.

Terwyl die Stormers nie ’n watwonderse vertoning gelewer het teen die Leeus die afgelope naweek nie, kyk Van Rhyn deur ’n positiewe lens ná die oorwinning met 23-17.

“Al was dit nie ’n mooi wedstryd nie en daar baie is waarop ons kan verbeter, dink ek die ouens het dapperheid en veggees gewys naby aan die einde van die wedstryd,” sê hy.

“Ek sien uit na Vrydag se wedstryd. Ons sal die Pumas nie onderskat nie. Hulle het ’n baie goeie oorwinning oor Griekwas behaal. Ons sal goed voorberei en sien uit daarna om Nelspruit toe te gaan en ’n goeie vertoning te lewer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.