Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Van Rooyen in twee geskeur deur loesing
Vincent Tshituka se gesig en lyftaal straal die pyn van elke Leeus-speler uit ná hulle Saterdag in die laaste sekondes deur die Stormers geklop is. Foto: Gallo Images

As Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd op Ellispark twee minute vroeër geëindig het, sou almal gepraat het oor die heldedade van ’n klomp individue in die Leeus-span.

Maar toe skiet hulle hulself in die voet met swak besluitneming en uitvoering in die doodsnikke . . .

Dit was die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, se versugting ná sy span se wendroogte in die Reënboogbeker-reeks Saterdag verder gerek is deur ’n Stormers-strafdoel reg teen die einde van die wedstryd.

Die Leeus het met 37-39 verloor, ná hulle tien punte in die laaste vier minute van die wedstryd afgestaan het.

“Die spelers het regtig hard baklei om te wen en baie goed gespeel. Hulle was dapper op die aanval, ons het die Stormers onder druk gehou met goeie skoppe en ek was baie ingenome met die skrum.

“Maar in die laaste twee minute het swak besluitneming en uitvoering ons duur gekos. Het dit nie gebeur nie, het mense nou gesit en lofliedere sing oor ’n klomp van ons individue.

“Maar alle krediet aan die Stormers, vir hul wen en hul bydrae tot ’n skouspel,” het Van Rooyen gesê.

Inderdaad verdien amper elke Leeus-speler ’n paar kloppe op die skouer vir hul spel. Eerste op dié lys is die 19-jarige losskakel Jordan Hendrikse, wat in sy eerste volwaardige senior wedstryd skaars ’n voet verkeerd gesit het.

Sy yslike skopskoen het die Stormers gereeld laat omdraai en die selfvertroue waarmee hy die bal versprei het, was skynbaar aansteeklik.

“Om so ’n wedstryd as ’n 19-jarige te speel, is fantasties,” het Van Rooyen gesê van Hendrikse.

“Hy was uitmuntend en dis duidelik dat hy ’n spesiale talent is. Dit het ook nie net gegaan oor die groot skoppe waarmee hy vorendag gekom het nie, maar ook die vertroue wat hy bring en hoe hy almal om hom georganiseer het.”

Rondom Hendrikse het elke agterspeler gedy en die Stormers se verdedigingslinie laat skarrel. Voorlangs het die Leeus die Stormers boonop ’n paar keer ore aangesit in die skrums.

Dis geen wonder nie dat Van Rooyen gesê het hy het gemengde gevoelens ná die wedstryd.

“Ek is trots op die karakter van die spelers, en as ek sien hoe seer elke ou daar in die kleedkamer het oor dié uitslag, weet ek ons is op die regte pad.

“Ons was regtig goed tot die laaste minuut en ’n half, en toe was daar twee groot oomblikke wat ons gekos het. Ek is in twee geskeur: enersyds is ek regtig trots, maar ook baie hartseer dat ons verloor het,” het hy gesê.

Die twee groot oomblikke waarna Van Rooyen verwys, is die strafskop wat Willem Alberts diep in die 80ste minuut afgestaan het omdat die skeidsregter gemeen het hy het aan die bal geklou, en die strafskop reg voor die pale twee minute later waarvan Tim Swiel die wenpunte aangeteken het.

Dit het gelyk asof die Stormers-skrumskakel Herschel Jantjies van sy voete af was toe hy die bal volgens die skeidsregter by Alberts probeer steel het. Die Leeus-kaptein, Burger Odendaal, wou hê dit moes weer bekyk word, maar moes hoor hy het nie meer ’n kapteinsverwysing oor nie.

Van Rooyen wou nie kommentaar lewer daaroor nie en het gesê hulle sal Maandag uitsluitsel kry oor daardie besluit, ná ’n gesprek met die skeidsregter.

“Ons sal praat daaroor of MJ (Pelser) regtig op die bal was, of die bal gelos het (in die beweging wat tot die laaste strafskop gelei het), en dieselfde met Herschel,” het hy gesê.

• Puntemakers:

Stormers 39 (15): Drieë: Dan du Plessis (2), Bongi Mbonambi, Marcel Theunissen, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Abner van Reenen (2), Tim Swiel (2). Strafdoele: Van Reenen, Tim Swiel.

Leeus 37 (22): Drieë: Wandisile Simelane, MJ Pelser, EW Viljoen, André Warner, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3). Strafdoele: Hendrikse (2).

Meer oor:  Stormerd  |  Leeus  |  Rygby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.