
Simphiwe Matanzima se ernstige besering is ’n gevoelige slag vir die Blou Bulle se Curriebeker-aanslag. Foto: Gallo Images
Die kontrak wat die Bulle onlangs met die veelsydige voorryman Jacques van Rooyen gesluit het, kon nie op ’n beter tyd gekom het nie.
Simphiwe Matanzima se ernstige besering wat hy verlede week in ’n oefensessie opgedoen het, krap Jake White se planne wat hy vir die verwagte Curriebeker-kompetisie het, deurmekaar.
Die 22-jarige Matanzima sal op die vroegste eers weer halfpad deur volgende seisoen sy plek in die voorry kan inneem nadat hy verlede week sy linkerhaksening geskeur het.
Hy is Vrydag geopereer en daar is ná dese kommer by Loftus Versfeld oor dié belowende speler se loopbaan.
Matanzima was vroeër vanjaar ook vir ’n beseerde skouer onder die mes.
Dié boorling van Queenstown en kleinseun van die oudpresident van Transkei, wyle Kaiser Matanzima, was verlede jaar een van die Bulle se vondste in die Superreeks.
Dié boorling van Queenstown en kleinseun van die oudpresident van Transkei, wyle Kaiser Matanzima, was verlede jaar een van die Bulle se vondste in die Superreeks.
Hy word beskou as ’n speler wat kort voor lank vir die Springbokke in aanmerking kan kom.
Dié slegte tyding van sy besering kom enkele dae nadat die ervare vaskop Wiehahn Herbst hom by die Leeus aangesluit het.
Die Bulle se ander stut-aanwins, die Bok Marcel van der Merwe, is nog in die VSA, waar hy op ’n vlug na Suid-Afrika wag.
Van der Merwe het in Mei weer ’n Bul geword nadat hy die afgelope vier seisoene sy brood en botter by Toulon in Frankryk verdien het.
Hy herstel egter ook nog van ’n enkeloperasie en dit is nie seker hoe lank hy nog buite aksie gaan wees nie.

Edgar Rathbone. Foto: Argief
Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, het Maandag bevestig daar is nog nie ’n aanduiding wanneer Van der Merwe hom by die span sal kan aansluit nie.
Die verwagting is boonop dat die Bulle se eerstekeuse-stutte – Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka – later vir die Rugbykampioenskap by die Springbokke betrek sal word.
Van Rooyen, wat aan albei kante van die skrum kan sak, kan in die lig hiervan ’n grote bate vir die Ligbloues wees.
Hy het in 2015 die Leeus se nr. 1-trui op sy rug gehad toe die Johannesburgse span die Curriebeker verower het.
Dayan van der Westhuizen, Gerhard Steenekamp en Mornay Smith is die ander stutte in die Bulle se groep.