Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schoeman oorgehaal vir WP-stryd

As daar een kragmeting is om ’n span voor te berei vir ’n halfeindstryd, dan is dit ’n kragmeting met die Westelike Provinsie.

Só praat die Vrystaat-Cheetahs se losskakel en generaal, Tian Schoeman, oor Saterdag se allerbelangrike Curriebeker-stryd teen die Streeptruie in die Rosestad.

Tian Schoeman gaan Saterdag ’n belangrike rol vir die Vrystaat-Cheetahs teen die Westelike Provinsie speel. Foto: Getty Images

Rose moet die Kapenaars allermins verwag, want net soos hulle, maak die Vrystaat ook jag op ’n plek in die halfeindronde van die reeks.

Schoeman maak sy terugkeer nadat hy drie weke gelede ’n kuitbesering opgedoen het en is opgewonde om teen verlede jaar se verslane finalis uit te draf.

“Dit is so dat ons nog nie in die halfeindronde van die reeks is nie, maar as daar iets is wat ons kan regkry daarvoor, is dit ’n wedstryd teen die WP. Hulle is baie klinies, ’n baie sterk span en dis dalk goeie voorbereiding vir ons,” sê Schoeman.

"Ons het planne beraam hoe om hulle die stryd aan te sê en ons sal ’n paar gate in hulle verdediging wil vind."
- Tian Schoeman

Dié losskakel glo die gedwonge blaaskans wat hy weens sy kuitbesering gehad het, was goed én sleg.

“Met een ronde van wedstryde in die reeks oor, is ’n blaaskans dalk nie so ’n goeie ding nie, maar ek is uitgerus en sien werklik uit daarna om te kan speel. Ek is dalk so ’n bietjie varser as die res van die ouens,” sê Schoeman.

Sy regstreekse teenstander Saterdag is die Springbok Damian Willemse. Hy het self verlede week teen Griekwas eers sy terugkeer tot die veld gemaak nadat hy herstel het van ’n kniebesering.

Damian Willemse glo hy speel nog vir ’n plek in Rassie Erasmus se Wêreldbeker-groep. Foto: Gallo Images

“Ek dink Damian is ’n baie goeie speler, wat ’n bietjie flair na die WP-span bring op die aanval. Ek moet egter sê dat ons nie juis op hom fokus nie, dit gaan oor wat die Vrystaat moet doen, dan sal die telbord in ons guns aan die rol bly.”

Die vraag is egter hoe om ’n gemotiveerde WP-span, met ’n drietal Bokke terug in sy geledere, te klop.

“Ons het planne beraam hoe om hulle die stryd aan te sê en ons sal ’n paar gate in hulle verdediging wil vind. Hopelik pla die dun lug hulle hier bo en werk ons planne,” het Schoeman hierop geantwoord.

Die WP se breier, John Dobson, het verras met die insluiting van Rikus Pretorius, ’n Junior Springbok-senter en voormalige skolier van Grey-kollege. Hy sal net soos die Vrystaatse stut Boan Venter sy buiging in die reeks maak.

Die WP-bokke wat Saterdag ingespan word nadat hulle verlede week vir die Bokke diens gedoen het, is Dillyn Leyds, Wilco Louw en Scarra Ntubeni.

“Ons weet ons moet ’n kliniese vertoning lewer Saterdag en dis ’n uitdaging wat elke speler vandeesweek aanvaar het,” het John Dobson gesê.

“Ons is opgewonde oor die kombinasies wat ons het, met talentvolle spelers wat vandeesweek in die span ingekom het. Ons fokus is om so akkuraat as moontlik te wees.”

* Vrystaat-Cheetahs: Clayton Blommetjies, Darren Adonis, Benhard Janse van Rensburg, William Small-Smith, Tian Meyer (k), Tian Schoeman, Ruan Pienaar, Henco Venter, Abongile Nonkontwana, Junior Pokomela, Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, Boan Venter, Joseph Dweba, Hond van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Ox Nche, Aranos Coetzee, JP du Preez, Gerhard Olivier, Jasper Wiese, Dries Swanepoel/Dian Badenhorst, Louis Fouché.

Westelike Provinsie: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, SP Marais, Damian Willemse, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Nama Xaba, Juarno Augustus, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.

Assistent-skeidsregters: Ruhan Meiring en Mpho Matsaung.

TV-skeidsregter: JJ Wagner.

Afskop: 17:15 (SS 1, M-Net).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.