Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: 4 spanne veg vir 2 plekke

Die Maties gaan poog om sy onoorwonne rekord in vanjaar se Varsitybeker-reeks te behou, terwyl Tuks die spook van twee weke terug sal probeer verjaag.

Jordan Chait, losskakel van die Maties, spel gevaar vir die Shimlas. Foto: Gallo Images

Dít in ’n neutedop is die verhaal van Maandag se twee halfeindstryde, met vier spanne wat sake gaan uitspook vir die reg om in die eindstryd te speel.

Die verdedigende kampioen, die Maties, se afrigter, Hawies Fourie, sê daar is nie sprake daarvan dat hulle Shimlas, wat na Stellenbosch reis, sal onderskat nie.

“Die Shimlas is gevaarlik en kan enige span klop. As jy kyk na hulle wedstryd teen die Pukke (wat die Potchefstromers met 26-13 gewen het), het hulle meer as 70% van die balbesit gehad en kon daardie wedstryd maklik gewen het,” sê Fourie.

Die Stellenbossers sal egter sonder hul beseerde kaptein, Johan Momsen, asook Johann van Niekerk oor die weg moet kom. Chris Massyn sal die tuisspan nou lei. 

Die Maties sal wel baie selfvertroue put uit die feit dat hulle die Shimlas verlede maand met 59-14 in Bloemfontein afgestof het.

Maar Hendro Scholtz, afrigter van die Bloemfonteiners, het aan Owen Kock gesê sy span kán verbeter op daardie vertoning.

Nollis Marais, afrigter van Tuks, sê sy span het voorberei om die Pukke in nat weer te pak. Foto: Gallo Images

“Ek dink ons kan maklik 60% beter speel as wat ons in ons laaste wedstryd teen hulle was.

“Ons praat al vir ’n week daaroor dat die begeerte om te wen talent op enige dag kan klop. So ons moet dit (’n oorwinning) net meer wil hê as hulle (die Maties),” sê Scholtz.

Tuks se oorwinning van 28-0 oor die Pukke ’n paar weke terug, beteken niks nie, sê dié span se afrigter, Nollis Marais, wie se span gasheer speel vir die Pukke.

“Ons weet die Pukke kan speel, hulle het ons ver in ’n oefenwedstryd aan die begin van die seisoen geklop. Hierdie is amper soos ’n toetsreeks. Dit lyk of dit Maandag gaan reën en ons het Vrydag in reën geoefen,” sê Marais, wat hoë verwagtinge van “ons baie jong span” koester.

Tuks het hom die seisoen aan onbestendigheid skuldig gemaak, soos twee weke terug se gelykopuitslag van 26-elk teen die Ikeys. Dít nadat die Pretorianers met die rustyd met 0-26 agter was.

Jonathan Mokuena, afrigter van die Pukke, sê hy het die afgelope week ’n eenvoudige boodskap aan sy spelers gegee.

“Gaan voort met dít wat ons doen.” Die Potchefstromers het baie momentum nadat hulle die afgelope twee weke weghol-oorwinnings oor die Ixias (62-7) en Wits (74-15) behaal het.

Tog sê Mokuena die onlangse nederlaag teen Tuks sal nie sy span beïnvloed nie.

“Ná daardie wedstryd was ons eerlik en krities met mekaar. Ons het alles probeer, maar niks het op die dag gewerk nie,” sê hy.

* Program: 16:45: Tuks t. Pukke, 19:00: Maties t. Shimlas (albei regstreeks op SS 1 en SS 8).

Meer oor:  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.