Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: ‘Dié een was vir Chester’

Lionel Langenhoven, nuwe afrigter van die Universiteit van Wes-Kaapland, en sy span het hul geskiedkundige oorwinning oor die Shimlas in Bloemfontein aan die ontslape voormalige breier Chester Williams opgedra.

Lede van die UWK-span vier hul Varsitybeker-oorwinning oor die Shimlas in Bloemfontein. Foto: Varsity Sports

Williams was verlede jaar UWK se breier en is op 6 September 2019 op 49-jarige ouderdom aan ’n hartaanval oorlede.

“Ek kan met groot trots sê dat Chester ’n grondslag vir ons gelê het. My laaste vergadering met hom, op die dag toe hy gesterf het, was dat hy hom nie hoef te bekommer nie.

“Ons was toe besig met ’n baie suksesvolle liga-veldtog in die Westelike Provinsie. Hy het vir my en Bolla (Conradie, hulpafrigter) gesê, as daar iemand sy werk by die UWK moet voortsit, dan is dit ek en Bolla en hy het volle vertroue in ons.

“Ons het vanaand (Maandagaand) vir sy nalatenskap gespeel. Ons wil ook nie te veel emosie aan elke wedstryd koppel nie, want die lewe gaan aan, maar ons speel altyd met hom in ons gedagtes en dis net reg dat ons dit doen,” het Langenhoven ná die sege met 29-28 op Shimlapark gesê.

Hy sê hy glo dit (die oorwinning) is die begin van groot dinge vir sy span, maar hy wil ook nie hê ander moet dink hy is voor op die wa nie.

“Jy moet glo in jou spelers se talent, want dis ’n Godgegewe talent wat hulle gekry het. Ek het met die oorhandiging van hul truie vir hulle gesê hulle moet dankbaar wees dat die Man van Bo saam met Chester neerkyk op ons talente en ons moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

Keagan Fortune word hoog aangeslaan deur sy afrigter by die UWK, Lionel Langenhoven. Foto: Gallo Images

“Ons moet elke geleentheid gebruik om dit te toon en hulle het dit vanaand gedoen.”

Een van daardie spelers wat gewys het waartoe hy in staat is, was die losskakel Keagan Fortune, wie se suksesvolle strafdoel teen die einde sy span met een punt laat seëvier het.

“Ek steun ongelooflik baie op Keagan. Hy is ’n baie instinktiewe rugbyspeler en ek het die laaste vyf jaar wat ek met hom werk, gesien jy moet nie te veel opdragte aan hom gee nie, hy moet die situasie op die veld self opsom en daarvolgens speel.

“Ja, hy maak nog foute, maar niemand is perfek nie. Maar, wanneer die groot oomblikke daar is, dan kom hy deur. Ek het in ons individuele gesprek toe ons vir die wedstryd voorberei het vir hom gesê hy sal vandag ’n Speler van die Wedstryd-vertoning lewer, al speel hy weg van die huis af waar die druk nog groter is.

“Hy het herstel nadat hy ’n bietjie swak gespeel het teen Wits verlede week en die karakter wat hy getoon het teen Shimlas is dié van ’n groot speler,” het Langenhoven sy wedstrydwenner lof toegeswaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.