Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: Maties spog met 5de titel
STELLENBOSCH, SOUTH AFRICA - APRIL 15: during the
Maties vier hul vyfde Varsitybeker-titel. Foto: Gallo Images

Wéér kampioene! Die Maties het Maandagaand voor 20 000 passievolle ondersteuners in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch hul Varsitybeker-titel suksesvol verdedig deur hul tradisionele aartsvyand, Tuks, met 34-12 te verslaan.

Dit was ’n uitstekende vertoning deur die Maties, wat die vyfde keer die kampioen is. Hulle was klinies op die aanval, en puik op die verdediging en in die vaste fasette.

Munier Hartzenberg
Munier Hartzenberg, regtervleuel van die Maties, duik oor vir een van sy twee drieë. Foto: Jaco Marais

Met rustyd was die Maties welverdiend met 12-0 voor nadat hulle Tuks takties uitoorlê en die fisieke stryd by die afbreekpunte gewen het.

Hawies Fourie, die Maties se afrigter, kon nie vir ’n beter begin van sy span gevra het nie. Hulle het die bal uit die staanspoor sterk gedra en strafskoppe begin afdwing. Van die tweede strafskop is die bal in die hoek uitgeskop en het Johann van Niekerk in die vyfde minuut al van ’n lynstaandryf afgerond.

Tuks het hul kanse op die aanval gehad, maar is by ’n paar geleenthede gefnuik deur die Maties wat die bal by die afbreekpunte omgekeer het.

Die besoekers se skoptaktiek het ook veel te wens oorgelaat en hulle onakkurate en ondeurdagte gesool van die bal het sake vir die Maties vergemaklik.

Jordan Chait
Erich Cronjé, binnesenter van Tuks, probeer die Maties se losskakel, Jordan Chait, in sy spore stuit in die Varsitybeker-eindstryd in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Maties het by tye gesukkel teen Tuks se opskietverdediging, maar het deur Chris Smit se dinkwerk oor daardie hekkie geseil. 

Hy het met ’n bietjie meer as ’n halfuur vir Munier Hartzenberg met ’n skopaangee agter die verdediging gevind om die Maties se tweede drie af te rond.

Dit het die Maties nie lank geneem om hul voorsprong in die tweede helfte te rek nie. Hulle het die bal deur talle fases naby Tuks se doellyn geneem voordat dit flink deur die hande is vir Van Niekerk om sy tweede drie af te rond.

Hierdie keer was dit ’n sewepuntdrie en ná Jordan Chait se doelskop was die telling 21-0 vir die Maties. Tukkies was nou tot inhaalrugby verdoem.

STELLENBOSCH, SOUTH AFRICA - APRIL 15: during the
Die Maties-vleuel Edwill van der Merwe hol drie Tuks-verdedigers dronk. Foto: Gallo

Maar gee die besoekers krediet. Hulle het hul ondeurdagte skopwerk van die eerste helfte gestaak en die bal effektief begin dra, met veral die reuse slot Marius Verwey wat die oog getref het. Die somtotaal van baie konstruktiewe spel was ’n drie in albei hoeke vir die blits Dewald Naudé.

Die wedstryd het in ’n oogwink vir Tukkies ’n verlore saak geraak toe hul heelagter, Vaughen Isaacs, met ’n kwartier oor ’n rooikaart gekry het vir ’n hoogvat op Brendon Nell. 

Voor sy breinfloute was daar nog vir Tukkies ’n kans, maar met een man minder op die aanval en verdediging kon hulle maar vergeet.

Chait het deur ’n strafdoel die Maties se voorsprong weer na 12 punte laat rek voordat Hartzenberg ’n dolk deur Tukkies se harte gedruk het deur sy eie skoppie op te volg en te druk. Nou was dit 31-12 en met slegs 10 minute oor was die Pretorianers se doppie geklink.

* In die hoofvoorwedstryd het die Maties se Young Guns die Pukke in ’n riller-eindstryd met 32-22 verslaan. 

Puntemakers:

Maties 34 (12): Drieë: Johann van Niekerk, Van Niekerk (sewepuntdrie), Munier Hartzenberg (2). Doelskoppe: Jordan Chait (3). Strafdoele: Chait (2).

Tuks 12 (0):Drieë: Dewald Naudé (2). Doelskop: Tinus de Beer.

Meer oor:  Varsitybeker-Eindstryd  |  Varsitybeker  |  Maties  |  Tuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.