Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: Everest wag in Bos

Soos jaarliks die geval is, is die Maties, Pukke, Shimlas en Tuks weer die vroeë gunstelinge wanneer die eerste skote in 2020 se Varsitybeker-rugbyreeks Maandag klap.

Meer as ’n handvol van die spanne in dié gewilde studentereeks spog egter vanjaar met ’n nuwe afrigter en ook verskeie nuwe spelers. Dit beteken dat ’n verrassing of twee in die loop van die seisoen ’n gegewe is.

Munier Hartzenberg van die Maties duik sierlik oor vir ’n drie in 2019 se eindstryd. Foto: Gallo Images

Daar gaan ook twee van dié gunstelinge wees wat ná die eerste ronde straks ’n nulletjie agter hul naam op die puntelys gaan hê.

Drikus Hancke, wat verlede jaar die leisels by die Maties se suksesvolle afrigter Hawies Fourie oorgeneem het, besef daar is druk op hom en sy span.

Die Stellenbossers, die afgelope twee jaar die kampioenspan, is Maandag gasheer vir die Shimlas.

“Die Shimlas is altyd ’n goeie teenstander. Daar is ’n paar dinge wat ons sal moet reg doen, soos om goed te verdedig en ons man te staan in die vaste fasette,” sê Hancke.

Wat in die Stellenbossers se guns tel, is dat spelbrekers van 2019 soos die veelsydige agterspeler Munier Hartzenberg en die skrumskakel Remu Malan weer vanjaar aantree.

Dat die Bloemfonteiners sal wil wraak neem vir hul nederlaag van 5-47 teen die Stellenbosse studente verlede jaar se halfeind is ’n gegewe.

Een van die besoekers se probleme is egter dat die Stellenbossers bitter lanklaas op hul eie tuisveld vasgeval het – in die eindstryd van 2016 se toernooi teen die Pukke.

Tog is die Shimlas se breier, Hendro Scholtz, versigtig optimisties oor sy span se kanse.

“Ons het net een oefenwedstryd vooraf gespeel, maar ek sal graag in die eerste vyf tot tien minute wil sien of ons by Maties kan byhou.

“Ek verwag ’n paar foute in die eerste paar minute, maar as ons in daardie eerste paar minute kan byhou, gaan dit ’n goeie wedstryd wees,” sê hy.

* Wraak is beslis ook ter sprake wanneer die ander twee gunstelinge, Tuks en die Puk, Maandag in Pretoria slaags is. Albei spanne spog met nuwe afrigters, met Nico Luus wat die tuisspan brei, terwyl die gewese Bok-losskakel André Pretorius die Potchefstromers afrig.

Tuks het die Pukke verlede jaar met 24-18 in die halfeind geklop. In die groepwedstryd verlede jaar het die Tukkies die Pukke met 28-0 ore aangesit – daar in Noordwes, digby die Mooirivier.

* Maandag se bepalings (tuisspan eerste): 16:45: Tuks t. Puk; 18:45: Maties t. Shimlas (albei regstreeks op SS 1 en SS 8). 19:00: Universiteit van Johannesburg t. Ikeys; Universiteit van Wes-Kaapland t. Wits.

* Die Ixias het ’n loslootjie.

Meer oor:  Pretoria  |  Stellenbosch  |  Tuks  |  Shimlas  |  Varsitybeker-Reeks  |  Pukke  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.