Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: Maties-hofstryd dreig

Die Varsitybeker kan in ’n hof­geveg beland met Maties, sy kampioenspan en een van sy grootste vennote, weens ’n geskil oor ’n beplande borgskap vir die universiteit.

Die beplande borgskap is in konflik met Varsitybeker se bestaande kontrak met SA Brouerye, sê Francois Pienaar, uitvoerende hoof van die Varsitybeker-bedryfsmaatskappy, ASEM.

Maties vrees dat hy miljoene rande kan kwyt wees as die nuwe ooreenkoms nie deurgevoer word nie. Hulle het die saak reeds na hul regsverteenwoordigers verwys, het Rapport op goeie gesag verneem.

Matie-ondersteuners tydens vanjaar se Varsitybeker-eindstryd in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch.Foto: gallo images

Pienaar sê die toernooi het ’n wetlike en morele plig om bestaande kontrakte te eerbiedig.

Hy sê hy het ná ’n versoek van Maties ruim toegewings van SA Brouerye beding om Maties en sy beplande borg tegemoet te kom, maar dit was klaarblyklik nie genoeg nie.

Pienaar wou nie die naam van die beplande borg bekend maak nie, maar Rapport het betroubaar verneem dat dit Namibian Breweries se Tafel Lager-handelsnaam is.

Maties is glo veral ongelukkig omdat hulle en die ander universiteite elk net R38 000 ontvang van SAB se R5 miljoen-borgskap.

Hieroor sê Pienaar daar moet in gedagte gehou word dat borgskapgeld gebruik word om die volle bedryf- en bemarkingskoste van die Varsitybeker, die Varsityskild en die Young Guns-kompetisie te dek. Dit sluit in al die spanne se koste vir vlugte, verblyf, klere en etes.

Die reëls van die raad van die Varsitybeker geld net die kompetisie. Die nege universiteite wat deelneem, het almal ’n verteenwoordiger in die raad en ’n stem.
Francois Pienaar

’n Deel van die borgskapgeld word ook gebruik om koshuisrugby gesond te hou.

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit van Stellenbosch, het bevestig Maties is in onderhandelinge met die Varsitybeker-raad oor ’n moontlike nuwe spanborg. “Dit is nie 'n dispuut nie, maar 'n onderhandeling oor die voorwaardes waaronder 'n nuwe spanborgskap toegelaat sou kon word.”

In antwoord op ’n vraag of daar ’n moontlikheid is dat Maties aan die Varsitybeker kan onttrek, het Viljoen gesê die universiteit bly verbind tot die reeks.

“Die US wil die geleentheid van 'n nuwe spanborgskap ontsluit juis om as sterk span aan die Varsitybeker deel te neem.”

Volgens Rapport se inligting voel die Maties-rugbyklub hulle het ’n borg broodnodig nadat Steinhoff sy borgskap van die universiteit se rugbyspanne moes opskort weens die krisis by dié maatskappy. Steinhoff het ook sy borgskap-ooreenkoms met die Varsitybeker as geheel opgeskort.

Pienaar sê universiteite het die reg om hul eie borge te werf in ooreenstemming met die reëls van die Varsitybeker. Buite die kompetisie is daar geen beperkings nie.

“Die reëls van die raad van die Varsitybeker geld net die kompetisie. Die nege universiteite wat deelneem, het almal ’n verteenwoordiger in die raad en ’n stem.”

Francois Pienaar

Volgens Pienaar geld die ooreenkoms met SAB tot Desember 2020. Daarvolgens het SAB, wat deur AB InBev besit word, die reg om by Varsitybeker-wedstryde hul handelsmerk in bemarking te gebruik en die reg om as alleenverskaffer van bier by Varsitybeker-wedstryde op te tree.

“ ’n Besondere vertrouensverhouding is opgebou met ons borge en lojaliteit is belangrik,” sê Pienaar.

Met universiteite wat tans onder geweldige finansiële druk is weens onder meer die aankondiging van gratis tersiêre onderwys deur oudpres. Jacob Zuma verlede jaar, word daar in sekere kringe vrae gevra oor die volhoubaarheid van die Varsitybeker-model.

Volgens Pienaar is die reeks egter in ’n sterk finansiële posisie, onder meer danksy FNB se borgskap wat tot ten minste 2022 strek.

Hy sê die Varsitybeker lewer ’n kritieke bydrae om die rugby-ekosisteem in Suid-Afrika gesond te hou en geleenthede vir spelers te skep.

“Varsitybeker-rugby is geskoei op die visie dat kranige rugbyspelers wat ’n graad wil verwerf, die geleentheid gegun word om ’n beurs te kry, te swot en hul rugby te geniet by hul universiteit.”

Hy waarsku dat wen nie allesoorheersend moet word nie.

“Dit is die universiteit se besluit hoeveel bestee moet word aan studiebeurse.

“Daar moet ’n balans wees. As daar nie ’n balans gehandhaaf word nie en dit begin gaan om wen ten alle koste, is niks volhoubaar nie.”

Meer oor:  Universiteit Van Stellenbosch  |  Asem  |  Maties  |  Sa Brouerye  |  Varsitybeker  |  Francois Pienaar  |  Martin Viljoen  |  Hofstryd  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.