Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: Maties het Tuks in hul visier

Baie min kenners sal geld daarop verwed dat die Maties nie Maandag hul Varsitybeker-titel suksesvol teen Tuks in Stellenbosch gaan verdedig nie.

Die Maties troon immers uit en behalwe dat hulle onoorwonne is, het hulle min tot geen genade vir hul teenstanders vanjaar betoon.

Maties het Tuks in hul visier. Edwill van der Merwe, vleuel van die Stellenbossers, vier sy drie in die halfeindstryd teen die Shimlas. Foto: Gallo Images

Maar in Pretoria is ’n man wat dink hy het die doepa om die Stellenbossers te klop.

Nollis Marais, afrigter van Tuks, het immers naam in dié reeks gemaak toe hy die Pretorianers in 2012 en 2013 na die titel gelei het.

“Ons gee onsself ’n kans, al dink niemand anders ons kan wen nie. Dit is eintlik eenvoudig, niemand het ons ook in 2013 ’n kans gegun nie.

“Ek het aan die begin van die jaar geweet dit gaan moeilik wees omdat ons ’n jong span het, maar die spelers speel regtig vir mekaar,” sê Marais.

Dat dit ’n jong span is, is nie allermins nie, slegs die losskakel, Tinus de Beer, en die vleuel Dewald Naudé, wat Maandag in die opdrafspan is, was in Tuks se beginspan wat in 2017 (met Pote Human as breier) die titel teen die einste Maties gewen het.

Die ervare Tinus de Beer, losskakel van Tuks, verstaan die druk wat met eindstryde gepaardgaan. Foto: Gallo Images

Maar Hawies Fourie, afrigter van die Maties, sê daar is nie sprake dat die vonkelwynproppe voortydig uit is nie.

“ ’n Eindstryd is uniek en die vorige nege wedstryde (vanjaar) maak nie saak nie. Ons voorbereiding die afgelope week was goed en ek is oortuig dat die spelers aangeskakel sal wees,” sê Fourie.

Die Maties het ’n terugslag beleef met die nuus dat hul gereelde kaptein, die slot Johan Momsen, en die skrumskakel, Logan Boonzaaier, die eindstryd weens beserings gaan misloop.

Maar die Stellenbossers word kwalik hierdeur verswak. Die ervare flank Chris Massyn, wat Tuks in 2017 aangevoer het, sal die Maties lei, terwyl nog ’n ou hand, Remu Malan, die nr.9-trui sal dra, met Brendon Nell, broer van die oud-Blitsbok Ryan Nell, as sy adjunk.

Hoe ervare die Maties is word onderstreep deur die feit dat Malan en die senter Chris Smit elkeen in hul vierde Varsitybeker-eindstryd speel.

* Maties sal in die hoofvoorwedstryd om 16:00 sy titel in die eindstryd van die Young Guns teen die Pukke verdedig, met die jong Stellenbossers wat vanjaar onoorwonne is.

* In die eerste wedstryd van die dag (14:00), sal Vishuis van Kovsies mik om die Koshuisliga-titel ’n vierde jaar in ’n ry te wen, wanneer hy Patria van die Pukke, ook in Stellenbosch, die stryd aansê.

Patria, wat die afgelope drie jaar in die eindstryd vasgeval het, was laas in 2011 baas.

Albei die voorwedstryde word regstreeks op SS 1 en SS 8 uitgesaai.

Spanne

Maties: Reinhardt Fortuin, Munier Hartzenberg, David Brits, Chris Smit, Edwill van der Merwe, Jordan Chait, Remu Malan, Stephan Streicher, Chris Massyn (k), Johann van Niekerk, Ben-Jason Dixon, Zirk Jansen, Sazi Sandi, Daniel Jooste, Wayrin Losper. PLAASVERVANGERS: HJ Luus, Leon Lyons, Piet-Louw Strauss, Mitchell Carstens, Jesse Johnson, Brendon Nell, Anton du Toit, Callie Nel.

Tuks: Vaughen Isaacs, Dewald Naudé, Lourens Pretorius, Erich Cronjé, Irvin Ali, Tinus de Beer, Theo Maree, Denzel Hill, Hanru Sirgel, Stephan Smit, Ruan Nortjé, Marius Verwey (k), Jean-Pierre Smith, Johan Grobbelaar, Etienne Janeke. PLAASVERVANGERS: Werner Fourie, Jacobus Eloff, Bart le Roux, Brian Leitch, Raegan Oranje, Damian Bonaparte, Xolisa Guma, Ewart Potgieter.

Afskop: 19:00 (SS 1 en SS 8).

Skeidsregter: Paul Mente.

Meer oor:  Varsitybeker-Eindstryd  |  Varsitybeker  |  Maties  |  Tukkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.