Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maties moet ‘waaksaam’ wees

Wanneer ’n span soos Maties in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks voortmarsjeer sonder om ooit werklik in die knyp te lyk, is oorgerustheid sy grootste vyand, sê dié span se kaptein, Ben-Jason Dixon.

Ben-Jason Dixon van die Maties probeer ’n afskop bemeester. Foto: Asemengage / photoshelter.com

Die Stellenbossers, steeds onoorwonne ná twee weghol-oorwinnings, kom Maandag teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in Bellville te staan.

Hoewel UWK vanjaar reeds ’n effense opskudding veroorsaak het deur die Shimlas te klop, word hy min kans gegee om sy buurman te troef.

Maar die 21-jarige Dixon, ’n slot, weet van beter as om te dink dat Maties slegs hoef op te daag om te wen.

“Dit gaan baie goed met ons vanjaar. Ek moet sê aan die begin, voordat die seisoen begin het, was ons bietjie op ons senuwees.

“Ons grootste uitdaging die seisoen is om gefokus te bly. Dit kan maklik gebeur dat jy fokus verloor as jy die heel tyd wen. As jy verloor, is jy meer op jou hoede, want jy dink dan aan die dinge waarop jy wil verbeter,” sê hy.

Toe die twee spanne verlede jaar slaags was, was Maties gerieflik met 84-26 baas.

“Dit gaan ’n groot uitdaging wees, hulle (UWK) was baie fisiek verlede week teen die Ikeys. Hulle het goed geskrum en ’n keer of wat die Ikeys laat harde bene kou,” sê Dixon.

Dié oud-hoofseun van Paul Roos Gimnasium, was deel van Maties se span wat in 2019 die Varsitybeker gelig het, en sal hoop om vanjaar weer uit daardie beker te drink.

Maar Dixon, wat studeer om ’n bedryfsingenieur te word, het ook groter ideale, soos om rugby op ’n hoër vlak te speel.

Hy het reeds vroeër in sy loopbaan vir die Suid-Afrikaanse Skolespan én die Junior Bokke uitgedraf en ook in Januarie vir die Stormers op Superheld-Sondag diens gedoen. Maar hy droom nou daarvan om Superrugby te speel.

“Ek sal graag vir die Stormers wil speel, en dalk later, wie weet vir die Springbokke. Maar ek vat dinge een ding op ’n slag. Ek kyk baie op na Pieter-Steph du Toit en probeer om soos hy te speel,” sê Dixon.

* In Pretoria kan die segelose Shimlas se veldtog in vanjaar se toernooi ’n verdere nekslag deur Tuks toegedien word. Tukkies is onoorwonne, terwyl ’n vierde nederlaag die Bloemfonteiners vir alle praktiese doeleindes in die waakeenheid kan los.

* Bepalings (tuisspanne eerste): 18:45: Tuks t. Shimlas (SS1 en SS12); 19:00: Wits t. Pukke, Universiteit van Wes-Kaapland t. Maties, Ixias t. Ikeys.

Meer oor:  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.