Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker sal aanhou blom, sê Pienaar

Almal weet van Springbokke soos Aphiwe Dyantyi, maar daar is ’n magdom onbesonge spelers wat sedert 2008 deur die Varsitybeker-reeks gekom het.

In 2019 sal die volgende generasie op die voorgrond tree, voorspel Francois Pienaar, voormalige Springbok-kaptein en een van die stigterslede van dié reeks.

Dis amper weer tyd vir die Varsitybeker-reeks. Hier is spelers van die deelnemende spanne by die bekendstelling van die toernooi in Johannesburg. Van links is: Rayno Nel (Ixias), Henk Pretorius (Shimlas), Constant Beckerling (Wits), Louis van der Westhuizen (NWU-Pukke), Edwill van der Merwe (Maties), Adrian Paarwater (UWK), Nama Xaba (Ikeys), Adriaan Bester (UJ) en Marius Verwey (Tuks). Foto: Verskaf

“Dink aan iemand soos Reniel Hugo wat in Jake White se span (Toyota Verblitz) was wat pas die Japanse liga gewen het. Dan is daar Don Armand wat vir die Exeter Chiefs in Engeland speel. Die Varsitybeker-reeks het vir so baie spelers die grondslag vir hulle loopbane gegee.

“Moenie van die afrigters vergeet nie. Die afrigters in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd, John Dobson en Robert du Preez, kom ook deur die reeks,” het Pienaar in Johannesburg by die bekendstelling van die 2019-reeks gesê.

Daar is nie vanjaar nuwe innovasies waarmee die water getoets gaan word nie. Die veelbesproke nege punt-drie, wat toegeken is wanneer ’n span vanuit hulle kwartgebied begin aanval het, is geskrap.

Pienaar sê dit beteken nie dat daar nie in die toekoms met nuwe idees gewaag gaan word nie.

“Ons leer elke jaar en ons is nie bang om die vrae te vra nie. Mense wat nie hou van innovasie nie, moenie na die reeks kyk nie.

As jy nie nuwe idees op die proef stel nie, hoe gaan jy weet of dit werk of nie?
Francois Pienaar

“Dit wat werk behou ons, soos die sewe punt-drie, wat vir ons gewys het die spanne val van dieper in hulle halfgebied aan.

“As jy nie nuwe idees op die proef stel nie, hoe gaan jy weet of dit werk of nie? Ek glo dit het oor die jare die reeks uniek en interessant gemaak.”

Daar voor die aanvang van verlede jaar se reeks sprake dat die ineenstorting van Steinhoff, wat een van die hoofborge was, die reeks se toekoms kan bedreig.

Pienaar sê daar is geen krisis nie.

“FNB is ongelooflik en die finansiële stand van die reeks is die beste wat dit nog was.”

Die twaalfde Varsitybeker-reeks begin op 4 Februarie wanneer die verdedigende kampioen, die Maties, in Stellenbosch teen Wits speel.

Die Tukkies pak die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in die eerste ronde en die Ikeys kom teen die nuweling, die Universiteit van Wes-Kaap, wat Chester Williams afgerig word, te staan. In die ander wedstryd meet die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Pukke kragte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.