Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker steeds in Maties se visier

Ondanks twee nederlae in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks, is daar by die Maties die geloof dat hulle steeds in staat is om later vandeesmaand dié reeks te wen.

So sê Mitchell Carstens, losvoorspeler van die Maties, aan die vooraand van die derde bioborrel van die reeks wat Maandag in Pretoria begin.

Mitchell Carstens sit af op ’n lopie vir die Maties in ’n kragmeting teen die Universiteit van Wes-Kaapland in 2020. Regs op die foto is Ben-Jason Dixon. Foto: Gallo Images

Die Stellenbossers bevind hulle in die vierde plek op die punteleer, nadat hulle teen die Ikeys en Ixias verloor het. Vir die suksesvolste span in die geskiedenis van die reeks – hulle spog met vyf titels – is dit ’n effens ongewone stand van sake.

Die Maties kom Maandag teen die Madibaz te staan, waarna die Universiteit van Johannesburg en die Shimlas in hul laaste wedstryde voor die halfeindronde op hulle wag.

“Ek het al baie daaraan gedink, maar ek het volle vertroue in ons vermoë. Die selfvertroue van ons leierskapgroep en ook die jonger ouens kom nou deur,” sê Carstens.

“Dat die talent daar is, kan nie betwyfel word nie. Daar is ’n klomp ouens wat al vir die Junior Bokke en die Westelike Provinsie gespeel het. Daar is ook ouens wat tevore die Varsitybeker gewen het.”

Die 24-jarige Carstens, wat die WP op junior vlak verteenwoordig het, is een van daardie spelers. Hy was immers deel van die 23-tal wat in 2019 die eindstryd gewen het. Maar Carstens was ook in die span wat in 2017 in die eindstryd teen Tukkies verloor het. Soet en suur.

Carstens, wat besig is met ’n honneursgraad in sosiologie, sê hy en sy spanmaats “het beslis die laaste ruk ’n paar waardevolle lesse geleer”.

Een van dié oudskolier van Paul Roos Gimnasium se vroegste herinneringe aan rugby is toe hy as kind saam met sy pa en oom raakrugby op ’n balkon gespeel het. So gretig was hy, dat hy besluit het om ’n duikslag uit te voer – en toe in die muur vasgeduik het.

“Van daardie dag af duik ek teen mure op die veld vas,” skerts Carstens.

Om die Varsitybeker weer staanplek in die Eikestad te gee, sal die Stellenbosse spelers bereid moet wees om by wyse van spreke teen mure vas te duik. Spanne soos die Ikeys en Ixias, wie se spelpeil vanjaar die beste is, staan lewensgroot tussen die Stellenbossers en Varsitybeker-glorie.

• Die wenner van die wedstryd tussen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en Ikeys Maandag in Pretoria sal die Chester Williams-gedenktrofee huis toe neem. Die twee spanne se jaarlikse kragmeting in die studentereeks sal voortaan om die trofee beslis word.

Chester Williams in aksie vir die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi in 1995. Foto: Gallo Images

Wyle Chester Williams het diep spore by UWK getrap. Dit was onder sy afrigting dat die span die Skildreeks in 2017 en 2018 gewen het en toe vanaf 2019 in die topliga deelgeneem het.

Williams is in 2019 op 49-jarige ouderdom dood. Hy was deel van die Springbok-span wat die Wêreldbeker-toernooi in 1995 gewen het en het Suid-Afrika in 27 toetse verteenwoordig. Hy het ook vir die Blitsbokke gespeel en later dié span afgerig.

Chester Williams langs die veld tydens die Varsitybeker-wedstryd tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en Ikeys in 2019 in Kaapstad. Links op die foto is Jerome Paarwater. Foto: Gallo Images

• Maandag se bepalings (op Loftus Versfeld): 15:00: Maties t. Madibaz; 17:00: Ikeys t. UWK; 19:00: Shimlas t. Tuks (SS 207, 211, GDN).

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.