Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker: UJ het ‘noodlot getart’
Speler en afrigters van die Universiteit van Johannesburg hou kajuitraad tydens ’n blaaskans in hul kragmeting vroeër vanjaar met Wits. Foto: Gallo Images

Die aankondiging dat geen span uit vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks gerelegeer gaan word nie, het minstens een afrigter van ’n vooraanstaande universiteit laat besef dat sy span op die rand van die afgrond gestaan het.

Dewey Swartbooi, afrigter van die Universiteit van Johannesburg (UJ), weet dit was so hittete of hulle het aanstaande jaar in die minder glansryke Skildreeks meegeding.

“Ons moet onsself as gelukkig beskou, ons seëninge tel en bly wees dat ons steeds daar is. Dit is ’n kans wat ons kry.

Ons moet onsself as gelukkig beskou, ons seëninge tel en bly wees dat ons steeds daar is. Dit is ’n kans wat ons kry.
Dewey Swartbooi

“Die plan is elke jaar om die uitspeelwedstryde te haal, geen afrigter rig af om só oor jou toekoms bekommerd te wees nie. Dit gaan belangrik wees dat ons seker maak dat ons nooit weer in so ’n posisie is nie,” sê Swartbooi.

Dít volg nadat die direksie van die Varsitybeker-reeks Woensdag besluit het om vanjaar se reeks nietig te verklaar weens die Covid-19-pandemie en om geen span te relegeer nie.

Vir die UJ (tien punte) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) (12) – die twee onderste spanne op die puntelys – was dit ’n benoude paar weke. Sou relegasie wel plaasgevind het, sou een van dié twee beslis afgeskuif het en die ander een sy bestaansreg in die Beker-reeks in ’n promosie-relegasie-wedstryd moes verdedig.

Die besluit die afgelope week deur die ringkoppe van die Varsitybeker-reeks volg nadat die reeks op 15 Maart opgeskort is.

Lionel Langenhoven, afrigter van die Universiteit van Wes-Kaapland. Foto: UWK Media

By UWK se afrigter, Lionel Langenhoven, is daar geen twyfel dat dit die regte besluit is om geen spanne te relegeer nie.

“As daar dalk meer drasties opgetree sou word, sou daar baie universiteite gewees het wat met reg ongelukkig sou wees. Maar ons kyk vorentoe en die feit dat ons in die Varsitybeker bly, is beslis iets positief.

“Ons weet nog nie hoe ons beplanning (vir 2021) gaan verloop nie, want die studente se akademie kom eerste en dit gaan moeilik wees om spelers te werf.

“Maar ek sien volgende jaar as ’n gulde geleentheid en ek is seker ons sal in die reeks (ná 2021) bly. Ons sal wel na ons beplanning moet kyk en dalk ’n paar versterkings moet kry,” sê Langenhoven.

Die ander belangrike besluite wat Woensdag geneem is, behalwe dat vanjaar se reeks geskrap word, is dat die Madibaz aanstaande jaar weer in die Beker-reeks sal meeding. En dat die onderste twee spanne aan die einde van 2021 outomaties afskuif Skildreeks toe.

In Port Elizabeth gaan jy sukkel om hierdie week ’n meer ingenome afrigter as Jarryd Buys, breier van die Madibaz, raak te loop. Die studente van die Baai is in 2018 na die Skild-reeks gerelegeer en volgens Buys het hulle groot planne vir die toekoms.

Jarryd Buys, afrigter van die Madibaz, glimlag breed dié week.Foto: Argief

“Dit is ’n verligting. Die afgelope twee jaar was omtrent ’n reis om ons weer in die Varsitybeker te bevind. Dit was in 2018 ons doelwit om weer daar te speel.

“Om eerlik te wees, wil ons mededingend wees, en nie slegs getalle vol maak nie. Ek dink dit sal ons mikpunt en ook ’n reuse-prestasie wees om 2021 onder die voorste ses spanne te eindig.

“Ons wil nie wag vir die laaste ronde om nog naels te kou oor waar ons ons in 2022 gaan bevind nie,” sê Buys.

Die Madibaz kon nog net twee keer tevore daarin slaag om die uitspeelrondes van die reeks te haal. Dit was in 2013 met Brent Janse van Rensburg as afrigter en in 2014 onder David Maidza se leiding.

Meer oor:  Promosie  |  Varsitybeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.