Die rugbyspan van die Madibaz begin sy veldtog in vanjaar se Varsityskild-reeks met ’n voorsprong.
Al het die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie die Baaise span verlede jaar in die eindstryd van die reeks geklop, het die Madibaz meer ligapunte verdien.

Luvo Claassen, die Madibaz se kaptein, in aksie in verlede jaar se Skild-reeks. Foto: Michael Sheehan
Daardie ligapunte is baie belangrik, want verlede jaar se ligapunte word teen die einde van hierdie seisoen saam met vanjaar s’n getel en die span wat dan in die eerste plek is, kwalifiseer om volgende jaar in die Varsitybeker-reeks te speel.
Die Madibaz het tans 30 punte – vyf meer as die Kaapse Skiereiland.
Luvo Claassen, die Madibaz se kaptein, sê sy span weet elke wedstryd en elke punt maak saak.
“Ons doel is om vir eers net op die eerste wedstryd te fokus en seker te maak dat ons al die punte wat ons kan kry insamel. Eers dan sal ons vorentoe kyk,” sê hy.
Hy voel ook nie dis net die Madibaz wat onder druk is nie. Al die spanne besef dat hierdie seisoen van deurslaggewende belang is.
Die Madibaz speel Vrydagaand op hul tuisveld teen die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Die Kaapse Skiereiland speel op sy tuisveld teen die Walter Sisulu-Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie.
In die derde wedstryd van die aand pak die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie vir Rhodes in Grahamstad.
Al die wedstryde begin om 19:00 en die een tussen die Kaapse Skiereiland en Walter Sisulu word regstreeks op SuperSport 1 uitgesaai.