SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Vasbyt, veggees gee Leeus krag in CB-reeks

Die Goue Leeus se veggees was Vrydagaand in Bloemfontein weer die deurslaggewende faktor toe hulle die Curriebeker se pasaangeër, die Vrystaatse Cheetahs, met 24-22 getroef het.

Wandisile Simelane van die Goue Leeus vier sy drie teen die Vrystaat-Cheetahs.Foto: gallo

Die Leeus is ná dié oorwinning die enigste onoorwonne span in die reeks met die Vrystaters wat hul eerste nederlaag gely het. Die Leeus het nou die Cheetahs, die Pumas en die Westelike Provinsie die onderspit laat delf.

Die Vrystaat het in die eerste helfte ’n gerieflike voorsprong van 19-0 opgebou en dit het gelyk of die skrif aan die muur vir die Leeus was. Die Leeus se kanniedood-spel het egter weer ’n stokkie gesteek voor die voorlopers en sy wen-hoop geblus.

’n Suksesvolle strafdoel reg voor die pale deur Shaun Reynolds het die knoop deurgehak.

Oomblikke voor dit was dit Louis Fouché se strafdoel wat die Vrystaters met 22-21 laat voorloop het.

Die Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar het laat in die tweede helfte speelkans gekry, met die gereelde skrumskakel, Tian Meyer, wat na vleuel geskuif het. Pienaar het gedoen wat van hom verwag is. Hy het goed agter die oond skoongemaak, en het gemaklik gelyk vir iemand wat in Januarie laas rugby gespeel het. Met meer speelkans sal hy ’n groter impak maak en moontlik kry hy teen sy ou span, die Haaie, meer speelkans Saterdag in Durban. Hy kan selfs in die beginspan wees.

Dié oorwinning gee die Leeus se breier, Ivan (Cash) van Rooyen, baie moed vir die reeks.

Die spelers werk hard, volg die prosesse en dit is verblydend.

“Die spelers werk hard, volg die prosesse en dit is verblydend. Daar is nog baie waaraan ons kan werk en verbeter, maar ek dink die jong manne baklei,” het hy sy trop jong Leeus geloof.

Hy sê dis goed vir Leeus-rugby om te sien hoe spelers (veral die senter Wandisile Simelane) wat deur die junior strukture gekom het, besig is om hul merk in senior rugby te maak.

Ruan Pienaar kan teen die Haaie in die beginspan wees en ’n groot impak maak.Foto: gallo

“Omtrent al die juniors van die Leeus in vanaand se wedstryd het o.19 en o.21 by ons gespeel. Die afrigters het ’n goeie grondslag gelê en ons bevind ons in ’n groei-proses in terme van waar ons is en waarheen ons op pad is.”

Van Rooyen se eweknie, Franco Smith, voel sy span het goed by hul prosesse gehou ondanks die nederlaag.

“Dis jammer, maar vir my is dit beter dat dit (nederlaag) nou gebeur. Dit help nie ons kom in ’n halfeindstryd en val dan vas nie. Ek het vir die span gesê ons moet oefen om die wedstryde wat so na aan mekaar is te hanteer.

“Ek dink daar is ’n groot verwagting in Bloemfontein. As dinge gebeur soos dit vanaand gebeur het, sal dit vir ons mense ’n groot teleurstelling wees as ons nie daaruit geleer het nie.

“Ek dink ons was baie goed, veral in die eerste helfte. Hulle het drie maklike drieë van omgekeerde besit gedruk nadat ons baie goed verdedig het. Die strafskoptelling was te hoog na my sin en ek dink ons het sagte oomblikke gehad waar ons hulle toegelaat het om punte kry en ons eintlik drieë moes gedruk het,” het Smith gesê.

Die Vrystaat kan die Haaie in sy volgende wedstryd aanvat sonder die losskakel, Tian Schoeman (kuit), en die flank Marnus van der Merwe (enkel).

Punte:

  • Goue Leeus 24 (7): Drieë: Madosh Tambwe, Tyrone Green, Wandisile Simelane. Doelskoppe: Shaun Reynolds (3). Strafdoel: Reynolds.
  • Vrystaat-Cheetahs 22 (19): Drieë: Joseph Dweba, Walt Steenkamp, Marnus van der Merwe. Doelskoppe: Tian Schoeman, Benhard Janse van Rensburg. Strafdoel: Louis Fouché.
Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  Goue Leeus  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.