Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vaste fasette Haaie se achilleshiel

As jou vaste fasette wankel, gaan jy aftjop. Vra maar vir die Haaie.

Thomas du Toit kan vir tot vier weke langs die kantlyn wees met ’n kuitbesering. Foto: Gallo Images

Lukhanyo Am, die Durbaniete se buitesenter en kaptein, verkeer onder geen wanindruk oor die redes vir sy span se nederlaag met 14-41 in Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld nie.

“Hulle het energie geput uit die vaste fasette. As dit nie daarvoor was nie, sou ons in die wedstryd gewees het,” sê Am.

“Dit was ’n baie frustrerende wedstryd. Die Bulle het ons onder geweldige druk geplaas by die afbreekpunte en in die vaste fasette. Ons kon nie momentum en bestendigheid kry nie. Hulle het toegeslaan op ons foute.”

Die Haaie het dié week hard geskaaf aan hul vaste fasette, maar die verlies van die Springbok-stut Thomas du Toit is ’n slag. Du Toit het sy kuit op Loftus beseer en sal vir tot vier weke langs die kantlyn wees. Dit was juis toe hy van die veld is, dat hul probleme in die skrums begin het.

“Dit is ’n groot terugslag, hy is een van ons mees ervare en belangrike spelers en die ou wat in sy plek inkom, sal hom goed van sy taak moet kwyt.”

Hoewel hulle hul skrums sal moet regruk, gaan die Haaie nie hul ganse wedstrydplan met die badwater uitsmyt nie.

Lukhanyo Am en Cornal Hendriks Saterdag op Loftus in ’n botsing betrokke. Foto: Gallo Images

Die span het vroeër vanjaar in die Superrugby-reeks baie sukses behaal met hul plan, wat op goeie tussenspel tussen die voor- en agterspelers geskoei is en ook staatmaak op hangskoppe, van waar die Haaie kan meeding om die bal terug te wen. ’n Stewige grondslag in die skrums en lynstane is egter, soos met enige wedstrydplan, ononderhandelbaar.

“Ons het hard gewerk om ons speelstyl te verfyn, ons kon net nie daarby hou teen die Bulle nie. Dit is nog te vroeg om dit nou te wil verander.

“Dit het voorheen gewerk, so ons glo daarin. Dié week sal dit nie baie verander nie. Ek glo nie ons is ver daarvan om op ons beste te wees nie.”

Die Haaie pak dié naweek die Pumas in Mbombela, wat ongelukkig was om verlede week hul kragmeting met die Stormers met 37-42 te verloor.

“Dis altyd ’n taai, naelbytwedstryd teen die Pumas. Ons weet dit gaan moeilik wees in Mbombela, veral ná ’n nederlaag,” sê Am.

“Die Pumas het ’n gebalanseerde span, met goeie voor- en agterspelers. Hulle geniet dit om met die bal in die hand te speel en dit gaan interessant wees om hulle op hul tuisveld te pak.

“Hulle was ongelukkig met die uitslae wat hulle behaal het, maar ons het gesien wat hulle kan doen.”

Meer oor:  Haaie  |  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Lukhanyo Am  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.