Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Véél beter, sê Townsend oor Skotte
Chris Harris van Skotland skiet verby die Fransman Alivereti Raka onderweg na sy drie Saterdag op Murrrayfield.Foto: Getty Images

Skotland se rugbybreier, Gregor Townsend, was in sy noppies met die span se terugvegpoging in ’n opwarmtoets die naweek teen Frankryk.

Die Skotte was op Murrayfield voor die rustyd reeds met 3-14 agter, maar drieë deur Sean Maitland en Chris Harris ná die draaislag het die tuisspan uiteindelik met 17-14 laat seëvier.

Dit was soete wraak vir die span, wat verlede naweek in Nice met 3-32 deur die Hane afgeslag is.

“Ons het ’n manier gevind om te midde van ’n benarde situasie terug te veg en die knoop deur te hak,” het Townsend gesê. Hy het voor die toets 14 veranderings aan sy beginspan gemaak.

Gregor Townsend/Foto: Getty Images

“Dit was ’n uitsonderlike spanpoging. Ons was aangeskakel in die tweede helfte. Die ouens het toewyding gewys en het met trots vir die trui gespeel. Dit was baie bevredigend.

“Om vroeg twee sagte drieë af te staan en om so ver agter te wees met die rustyd, het ’n uitsonderlike poging geverg om die skip op koers te kry.

“Ons het boonop ’n paar sleutelspelers gedurende die toets verloor, so ouens moes teen die einde uit posisie speel, maar ons het vasgebyt,” het die breier gesê.

Net soos in Nice was Skotland gou aan die ontvangkant toe Damian Penaud vroeg in die eerste helfte onderskep het en ná ’n naelloop van 50 m onder die pale gaan druk het.

Sy tweede drie was ook pasella. Finn Russell kon nie die hoë bal bemeester nie en Gael Fickou het die kans aangegryp deur om Ryan Wilson te systap en Penaud doellyn toe te stuur.

“Daar lê nog harde werk vir ons voor, ons is deeglik bewus daarvan,” het Townsend erken. “Maar ons is veel nader aan die doelwit as wat ons verlede naweek was.”

Die oorwinning het egter teen ’n prys gekom, met Tommy Seymour en Blade Thomson wat met kopbeserings van die veld is en Sam Skinner wat op die oog af ’n ernstige dyspierbesering opgedoen het.

Ons het gewys ons kan onder druk speel. Die skare het die span gedra. Ons kon hergroepeer (ná die rustyd), gefokus bly en wys waartoe ons in staat is.
Gregor Townsend

“Dis terugslae wat ’n mens moet verwerk. Ons het gewys ons kan onder druk speel. Die skare het die span gedra. Ons kon hergroepeer (ná die rustyd), gefokus bly en wys waartoe ons in staat is.”

Skotland speel volgende Saterdag in nog ’n opwarmtoets teen Georgië in Tbilisi. Die span sluit dan sy voorbereiding vir die WB-toernooi af met ’n tuistoets teen dieselfde teenstander.

Townsend sal tussen die twee toetse sy finale WB-groep aanwys. – Reuters

Meer oor:  Gregor Townsend  |  Murrayfield  |  Frankryk  |  Skotland  |  Terugvegpoging  |  Opwarmwedstryd  |  Toets  |  Rugby  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.