Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Veelsydige Fassi weet nóú waar doellyn is
Aphelele Fassi lê die rieme neer teen die Pumas. Foto: Gallo Images

Die 14-jarige Aphelele Fassi kyk op van agter ’n afbreekpunt. Sy oë rek. Hier is ’n kans om ’n drie te druk . . .

Die jong skrumskakel van Dale College se o.14-span tel die bal op, flous sy regstreekse teenstander met ’n fopaangee en druk sy eerste drie vir sy hoërskool. Ekstase bars in Fassi los. Hy gooi die bal in die lug ter viering van die “drie”.

Die skeidsregter kyk na die grensregter. Dié sê vir die blaser nee, daardie is g’n drie nie, die bal is dan drie meter voor die doellyn gedruk!
Aphelele Fassi

“Die skeidsregter kyk na die grensregter. Dié sê vir die blaser nee, daardie is g’n drie nie, die bal is dan drie meter voor die doellyn gedruk,” herroep Fassi, nou 20 jaar oud en ’n vleuel en heelagter, vandeesweek sy vroegste herinnering aan ’n rugbywedstryd waarin hy betrokke was.

“Ons het darem die wedstryd gewen, so die afrigter was nie té kwaad nie!”

In die ses jaar wat sedert daardie dag verloop het, het Fassi mooi geleer waar die doellyn is. Hy het vanjaar drie drieë in die Curriebeker-reeks vir die Haaie gedruk.

Dit was egter nie ’n drie waarmee hy sy naam met Bostik op ondersteuners se lippe vasgeplak het nie.

Aphelele Fassi op pad doellyn toe in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle vanjaar. Foto: Gallo Images
Aphelele Fassi op loop teen die Goue Leeus in vanjaar se Curriebeker-halfeindstryd in Durban. Foto: Gallo Images

In die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks het hy die blitsvinnige Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi van ’n agterstand van byna tien meter ingehaal en platgetrek.

Dyantyi, óók ’n oudleerling van Dale, was volstoom op pad doellyn toe.

“Al wat ek gedink het, al wat deur my kop gemaal het, was: ‘Hierdie is die game changer. As hy hier druk, kan dit die wedstryd swaai.’

“En toe hardloop ek maar,” vertel hy.

Ná dese wonder ondersteuners of Fassi nie die vinnigste rugbyspeler in die land is nie.

“Nee, ek glo nie so nie.”

Hy is nie eens die vinnigste in die Haaie-span nie, bieg hy. Wie is dan vinniger?

“Ek reken Curwin (Bosch) is vinniger as ek.”

Met Bosch op heelagter en Fassi, Sbu Nkosi en Makazole Mapimpi wat vleuel dek, het die Haaie ’n agterste driehoek wat weerlig na stadige sneeuval laat lyk.

Die jong sneller sal hoop op genoeg speelkans in die Superrugby-reeks om vir Rassie Erasmus, die Springbok-breier, te laat kopkrap oor sy Wêreldbeker-kombinasies.

“Almal word groot met die droom om vir die Bokke te speel. Jy moet vooruit kyk. Maar jy moet dinge ook treetjie vir treetjie benader.

“As jy té ver vooruit kyk, kyk jy die treetjie reg voor jou mis.”

Ek was verlede jaar nog in matriek. Jy het drome, maar ek het nooit gedink ek sal vanjaar deel van ’n Haaie-span wees wat die Curriebeker wen nie.
Aphelele Fassi

Tog, teen die pas wat dinge vir Fassi gebeur, kan hy hom binnekort met ’n Springbok-baadjie in sy kas bevind.

“Ek was verlede jaar nog in matriek. Jy het drome, maar ek het nooit gedink ek sal vanjaar deel van ’n Haaie-span wees wat die Curriebeker wen nie.”

Só talentvol was Fassi op skool, dat daar mense is wat reken hy kon nou krieket op die grootste verhoog gespeel het, liewer as rugby.

“Ek het in ’n sportmal huis grootgeword. Saam met my broers (Sonwabile, 27 en Ntsikelelo, 25) het ek krieket in die strate gespeel.

“Ek, my broers en my susters (Qaliswa, 34, Tandile, 30 en Mbasa, 17) het almal saam sokker in die agterplaas gespeel en saam met my vriende het ek rugby gespeel.

“Ja, ek het drie honderdtalle in my matriekjaar geslaan, maar ek het altyd geweet ek gaan my op rugby toespits. Die aanbiedinge was ook beter,” sê die boorling van King William’s Town.

Ná skool het Fassi besluit om ’n rusjaar te vat, maar hy is van plan om in 2019 weer agter die boeke in te skuif.

“Ek het met my pa (Kenneth) gepraat en besluit ek wil volgende jaar bemarking studeer. Ek sal dit deur Unisa doen.”

Sy pa, sibbe en ma, Yandiswe, speel ’n groot rol in sy lewe. Hulle help hom om moeilike besluite te neem, soos oor sy studieplanne en die sport wat hy vir ’n loopbaan wil navolg.

“Ek geniet dit om tyd van gehalte saam met my ouers deur te bring. My pa was nog altyd my held. Hy was net nog altyd daar vir my,” sê Fassi.

Aphelele Fassi bemeester ’n hoë bal teen die Westelike Provinsie in die Curriebeker-eindstryd. Foto: Gallo Images

Buiten sy pa het Fassi ook ander helde.

“Toe ek grootgeword het, was Israel Dagg (die All Black-heelagter) my held. Later was dit Israel Folau (die Wallaby-heelagter).

“Hulle speel in die posisie waarin ek wil spesialiseer, maar hulle is ook aanpasbaar.”

Fassi wil ook aanpasbaar wees. Hy glo sy selfvertroue en werk onder die hoë bal is van sy groot sterkpunte.

Hy besef wel daar is nog skaafwerk aan sy spel nodig.

“Ek kan my verdediging en my skopwerk verbeter.”

Hoewel sy bewustheid op die veld een van sy sterkpunte is, wil hy dit nóg meer verbeter. Dit kom egter ook natuurlik vir hom.

“Op ’n rugbyveld, as jy jou oë oophou, sal jy spasie sien. Soos tyd verloop, raak ’n mens net beter.”

Meer oor:  Aphelele Fassi  |  Durban  |  Rugby  |  Vleuel  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.