Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vele vrae oor stemproses vir WB 2023

Die morele hoëgrond se oes is toe aan Frankryk gelewer of, afhangend van wie ’n mens vra, deur Europeërs gekaap.

Suid-Afrika is op 31 Oktober deur Wêreldrugby as sy voorkeurkandidaat aangewys om die Wêreldbekerrugbytoernooi in 2023 aan te bied.

En die verwagting was dat daar op 15 November deur Wêreldrugby se lidlande net ’n rubberstempel hierop geplaas sou word.

Toe nie.

Bill Beaumont en Bernard Laporte kort nadat Frankryk as 2023 se gasheer aangewys is. Foto: Getty Images

Frankryk het ná ’n verwoede stemwerwery en ’n reeks beloftes genoeg steun ingesamel om vir ’n reuse-skok te sorg toe Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter, die gasheerland by die Royal Kensington Hotel in Londen aangekondig het.

Bernard Laporte, die Franse Rugbyfederasie se grootbaas, se selfvoldane glimlag ná hierdie onthulling sal lank by Suid-Afrikaners spook en dui waarskynlik op die massiewe operasie, agter die skerms en onder die tafel, wat tot die Franse se sukses gelei het.

Die “morele hoëgrond” waaraan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in die aanloop tot Woensdag se geheime stemming vasgeklou het, het toe onder sy voete meegegee.

Daar kan vinger gewys word na reëls wat deur Frankryk en Ierland in die twee weke tussen die aanbeveling en die bevestiging verbreek is. Dit sal geen doel dien nie.

Die werklikheid van geopolitiek in sport, is dat daar nie vriende is nie, maar belange. En Suid-Afrika se belange strook nie met dié van Europa nie.

Dit is ’n gebroke kiesstelsel, eerder as beloftes en geldnote in aktetasse, wat aanleiding gegee het tot Frankryk wat die skouspel in 2023 sal aanbied.

Hierdie kiesstelsel, wat disproporsionele mag aan grootliks irrelevante rugbyfederasies gee, was ryp om deur ’n uitgeslape bodkomitee uitgebuit te word. Soos wat Frankryk gedoen het en Ierland probeer het.

Die feit is dat Suid-Afrika se stryd om die WB-toernooi aan te bied, uit die staanspoor ’n bykans onbegonne stryd was aangesien byna al die stemgeregtigdes in Europa gesetel is, of ten minste konneksies met Europa het.

Die feit dat 16 van Woensdag se 39 stemme uit Europa gekom het, is ’n aanduiding daarvan.

Die Sesnasies-unies en Sanzaar-unies het elk drie stemme, aangesien hulle die sterkste unies in terme van rugby en opbrengste is.

Dit is die oorblywende en grootliks irrelevante federasies en die gewig van hul stemme wat ’n reuse-vraagteken oor Wêreldrugby se proses laat ontstaan.

Daar is ses streekverenigings: Oseanië, Suid-Amerika, Noord-Amerika, Europa, Afrika, Asië en Japan, wat elk twee stemme gehad het.

Daar kan nou met reg gevra word wat hierdie federasies se relevansie en bydrae tot die globale spel is en hoe dit twéé stemme in so ’n delikate proses regverdig?

Dit is seker geen verrassing nie dat die meeste van hierdie federasies, selfs Afrika en Japan, vir Frankryk gestem het nie.

In die geval van Woensdag se stemproses was selfs Georgië, Kanada, Amerika en Roemenië se enkele stem bepalend.

Wêreldrugby se geloofwaardigheid het beslis ’n knou gekry. Daar moet gevra word of die proses se deursigtigheid, wat aan die groot klok gehang is, wérklik so glashelder is.

Veral as die onafhanklike aanbeveling van die beheerliggaam tydens ’n geheime stemming en in die gees van eiebelang geïgnoreer kan word.

Meer oor:  Bill Beaumont  |  Wb-Bod  |  Wêreldbeker-Bod  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.