Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Velleman gee Kings-breier klop op skouer

Deon Davids sal ’n sukses wees waar hy ook al afrig, sê CJ Velleman, Southern Kings-losvoorspeler.

CJ Velleman jaag die bal in Sondag se kragmeting met Connacht in die Madibaz-stadion. Foto: Gallo Images

Dit was Davids wat Velleman twee jaar gelede as 21-jarige sy eerste kans by die Kings gegee het.

Daardie jaar het Velleman so goed vertoon dat hy deur sommige oorsese kritici selfs met die Wallaby-ster David Pocock vergelyk is.

Weens twee ernstige kniebeserings was Velleman toe vir byna twee jaar langs die kantlyn.

Hy het ’n paar maande gelede sy terugkeer vir die Kings gemaak en is nou eers weer besig om sy voete te vind.

“Deon is briljant. Hy werk goed met die spelers en met sy hulpafrigters,” sê Velleman.

“Dit sal erg vir ons as spelers wees om hom te verloor as hy dalk die Bulle se nuwe afrigter word.

“Maar dis sy werk en sy loopbaan. As dit die volgende stap is wat hy moet neem op pad na die Springbok-span, dan is dit wat hy moet doen.”

Velleman sê hy is dankbaar vir al die geleenthede wat Davids hom by die Kings gegee het.

Hy en die res van die spelers is spyt dat hulle nie die breier en sy assistente met meer oorwinnings in hierdie seisoen se Pro14-reeks kon beloon nie.

Sondag was weer ’n moeilike dag, met die Oos-Kapenaars wat met 31-14 deur Connacht getroef is.

Deon Davids, die Kings se hoofafrigter. Foto: Olga Williams

Velleman was baie woelig, maar hy sê hy is nie tevrede met sy eie spel nie.

“Ek het ’n klomp dom foute gemaak. Dalk is ek ’n bietjie oorywerig,” sê hy.

“Ek dink ek mors energie waar ek nie moet nie. Maar my selfvertroue is darem besig om terug te kom.”

In sy eerste seisoen in Superrugby het hy geweldig baie omkeerbesit gewen. Dis juis sy harde werk by die afbreekpunte wat daartoe gelei het dat hy met Pocock vergelyk is.

In die Pro14-reeks het Velleman egter nog nie dieselfde impak by die afbreekpunte gehad nie.

“Baie keer jaag jy die bal vir 80 minute en wen jy nie een keer omkeerbesit nie. Ander kere jaag jy die bal glad nie en dan val daar vyf ouens voor jou en maak jy vyf turnovers,” sê Velleman.

“Dit is maar op en af, maar ek sukkel nog om daardie aspek van my spel weer reg te kry.”

Volgens Velleman is daar dalk meer geleenthede om in Superrugby omkeerbesit te wen as in Pro14-rugby.

“In Superrugby gebeur dinge dalk vinniger en meer ongestruktureerd en is daar ’n bietjie meer tyd tussen afbreekpunte, waar daar in Pro14 vaster gespeel word,” sê hy.

* Die Kings se volgende wedstryd is Saterdagaand teen Benetton Treviso in die Madibaz-stadion in Port Elizabeth.

Meer oor:  Deon Davids  |  Pro14  |  Cj Velleman  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.